Geestelike Leiers word geseën met ‘n visie: Die nood van die wêreld word hulle passie en laat ontluik hulle gawes

Geestelike leiers word geseën met ‘n visie: Die nood van die wêreld word hul passie en laat ontluik hul gawes

Gepubliseerde hoofstuk in Christen Leiers: God se mense vir nuwe werklikhede.  (Redakteurs) J le Roux & B Hanekom. 2008. Bybel Media: Wellington

The healing we require is one which combines both a rigorous accountability to our different communities and histories with a reaching out across differences to “the other”, seeking collaboration in the cause of healing, and being prepared to be vulnerable yet actively contributing and concerned citizens.

Denise Ackermann

 

 

” we are not challenged, in the first place, to solve the problems of the suffering and the poor. We are challenged to relate to the many faces we see all around us, to recognise that we are related to them, part of them, part of the suffering.”

Dirkie Smit

 

 

Hospitality is the insistence that life must be kept open to those unlike us, not only for their sake but for ours as well….. In a biblical understanding of life, the neighbor is not extra, marginal, or elective. The neighbour is definitional to social reality. The neighbor is indispensable for health, not only to care for but as a giver of gifts which we cannot generate ourselves.

Walter Breuggemann

 

 

 

Petrus en Kornelius Hand 10:1 – 11:18

 

Vir ons is die storie van Kornelius en Petrus aangrypend. God gebruik vir Kornelius, ’n nie-Jood, om aan Petrus Sy visie vir die Christelike kerk bekend te maak. Die visie is dat God nie onderskeid maak nie maar uit enige volk mense aanneem (10: 34) en dat Jesus Here is van almal (10: 36).

 

Kornelius is die Ander, die heiden met wie Jode nie mag meng nie, die kaptein in die Romeinse weermag en tog ’n godsdienstige en godvresende man, wat selfs gereeld tot God bid. Boonop het hy ’n hart vir die armes waarvan baie Jode is (10:1 en 2). Dis nou aan dié baie onwaarskynlike (vanuit die Joodse konteks gesien) man wat ’n engel verskyn om ’n ontmoeting met Petrus te reël.(10:4 en 5).

 

Petrus, in die oë van die Jode die teenpool van Kornelius en dus die persoon met wie hulle beter identifiseer,  is besig om op die dakstoep te bid toe God vir hom ’n gesig stuur ter voorbereiding van die visie wat Hy vir hom wil kommunikeer.  Hierdie gesig waarin God hom die onverklaarbare opdrag gee om onreine diere te eet, verbreed Petrus se bewussyn reeds oor  wat Jesus kom verander het. Petrus is nog besig om na te dink oor die gesig, toe kom Kornelius se manne daar aan en die Gees van God gee vir Petrus die versekering dat die manne deur God gestuur is. Petrus nooi hulle in en gee selfs vir hulle huisvestiging. Deur by Kornelius aan huis te gaan bevestig Petrus dat hy begin verstaan dat God nie wil hê dat hy enige mens as onheilig of onrein mag beskou nie (10:28).

 

Petrus se visie as geestelike leier ontwikkel met ’n interaksie tussen sy gebedsontmoeting met God, sy bereidheid om God te vertrou en te reageer op God se opdrag en boodskap. Sy gehoorsame aksies, selfs al neem dit hom buite sy gemaksone en die grense van sy Joodse godsdiens en afkoms dra by tot die verstaan van God se visie. Petrus se ontmoeting met Kornelius – die Ander- lei tot die bymekaarsit van ’n merkwaardige storie waarin God met hom en Kornelius afsonderlik gepraat het.  Dis nadat Petrus Kornelius se deel van die storie gehoor het wat hy kan sê: “waarlik, ek begryp nou eers” (10:34). Petrus stel sy gawes in werking en begin om die evangelie van Jesus Christus vir daardie groep nie-Jode te preek en die Heilige Gees kom op almal wat geluister het (10:44). Praat van bemagtig en bevestig! Petrus verstaan  nie net dat God mense uit elke volk aanneem nie, hy beleef dit self. Hy raak so begeesterd dat hy aanbly om hulle te leer.

 

Die ander apostels en gelowiges hoor intussen die storie van die nie-Jode wat die Here aangeneem het en Joodse gelowiges verwyt vir Petrus met sy aankoms in Jerusalem. Petrus het gesag as leier en toe hy van sy ervarings vertel, glo die ander hom. Meer gelowiges raak nou bewus van God se visie vir die wereld, want Petrus praat met oortuiging oor wat hy beleef en verstaan het. So word die visie wat God aan Petrus gegee het ook sy passie en kom sy gawes tot hul reg in diens van ’n wereld in nood. Die ander gelowiges reageer deur God te prys (11:18).

 

Elize en Michelle

 

Ons, Elize en Michelle, is twee vriendinne wat gereeld met mekaar gesels oor ons roeping as geestelike leiers. Ons gebruik ’n eenvoudige tipologie oor getuienis wees in ons pogings om sin te maak van ons onderskeie ervarings omtrent ons Christelike roeping binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ons sien ook paralelle met die tipologie in die storie van Simon Petrus en Kornelius.

 

Getuienisposisies tipologie

 

Kaethe Weingarten, ’n Amerikaanse professor in die sielkunde, het die impak van getuienis wees van trauma op mense bestudeer. Sy het ’n tipologie ontwikkel wat vier getuienisposisies voorstel na aanleiding van die mate waarin mense bewus is van dit waarvan hulle getuienis is en die mate waarop mense dan bemagtig daarop reageer.

 

 

 

Tipologie van Getuienis

 

 

 

BEWUS

ONBEWUS

 

 

 

BEMAGTIG

1 2
 

 

 

      ONTMAGTIG

3 4

 

‘n Tipologie van getuienis ontwikkel deur Kaethe Weingarten, skrywer van Common Shock: Witnessing violence every day, how we are harmed, how we can heal Dutton, New York 2000.

 

 

 

Petrus se getuienis posisie as geestelike leier

 

Ons lees dat Petrus nie altyd, soos in die storie van sy ontmoeting met Kornelius, Bewus en Bemagtig (Posisie 1) opgetree het nie. Kyk maar hoe maak Petrus ’n paar hoofstukke vroeër waar hy in ‘n Bewuste posisie Ontmagtig gereageer het (Posisie 3) en vir Jesus, vir wie hy vir jare lank passievol gevolg het net eenvoudig uit vrees verloën het. Dit nadat hy kort tevore baie sterk Bemagtig gereageer deur ’n soldaat se oor af te sny – totaal Onbewus van waaroor dit regtig vir Jesus gaan ( Posisie 2). In die dae voordat hy vir Jesus leer ken het, het hy as getuie oor Jesus se lewe en wat Hy vir die wêreld kom doen, Ontmagtig en Onbewus (Posisie 4) geleef. In die storie van Petrus se reaksie op die gesig en ontmoeting met Kornelius sien ons egter vir Petrus as Bewuste en Bemagtigde getuienis oor wie God is, wat Sy visie vir die wêreld is en Petrus reageer kontruktief en met groot seën daarop. Soos Petrus skuif ons ook tussen die blokkies van die tipologie rond.

 

 

Elize en Michelle

 

Ons grootword jare

 

Ons het baie verskillend grootgeword. Ek (Elize) was die kind van die eienaar van ’n appelplaas by Grabouw waar ek die Here leer ken het as Skepper en Onderhouer van die aarde. My ouers was baie betrokke by die NG Gemeente en ek het van jongs af ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus ontwikkel. My blootstelling aan swart en bruin mense was beperk tot die mense wat my familie gedien het as huiswerkers en plaaswerkers. Ek het God verstaan as: God is groot en sorg vir my en deur die kruisdood van Jesus Christus is ek gered en gaan ek hemel toe. Ek het was Onbewus van hoe God intens omgee vir die hele wêreld en dat almal vir Hom gelyk is. Omdat ek blind was vir diegene wat Anders as ek was, was ek Onbewus van hul lyding. Ek sou seker ook kon sê dat ek as jong kind min Mag gehad het om iets te doen omtrent die liefdeloosheid teenoor die Ander in ons samelewing.

 

Ek (Elize) het baie bevoorregte onderwys en naskoolse opleiding ontvang waar ek ook ’n leiersrol in die NG Kerk en die ACSV gespeel het. Later jare in Somerset-Wes het ek spoedig ’n welvarende privaatpraktyk as sielkundige gehad. As Christen sielkundige was ek ’n bekende openbare spreker in ons gemeenskap. Tot op die stadium in my lewe het “gemeenskap” steeds hoofsaaklik wit mense beteken. Apartheid het baie goed daarin geslaag het om my paaie op skool, universiteit, by my werk, die kerk, my man se werk en in ons woonbuurt hoofsaaklik met wit mense te laat kruis. My posisie van Bemagtig maar Onbewus leef, het gelei tot ‘n lewe waar ek bevoorregting as vanselfsprekend aanvaar het en finansiele welvaart as maatstaf vir sukses gebruik het. Dit was ’n tydperk van “vyf-jaar planne”, die “aktualisering van my potensiaal”, sosiale status en self-tevredenheid. My verstaan van my verhouding met God was ’n baie persoonlike en hoogs individuele saak, een waarin Jesus my ’n wenner maak, iemand wat vooruitstrewend en suksesvol is. Ten spyte van die sukses het ek begin sukkel met gevoelens van isolasie in persoonlike verhoudings.

 

In my (Michelle) se lewe het my ouers ’n groot rol gespeel in my vroeë Bewustheid van my baie ryk (sosiaal, politiese, geestelik) konteks. Ek en my susters het baie dae saam met my Pa, ’n gemeenskaps- en geestelike werker binne die NG Sending Kerk, gery na die arm  gemeenskappe van Lavender Hill en die aangrensende informele nedersetting (“squatter camp”) Vrygrond. So word ek pynlik Bewus van armoede op my drumpel. Ek onthou hoe my pa vir my vra: “Do you know that Jesus was born a ‘squatter’ too?” Ek word Bewus daarvan dat Christus gekom het om te identifiseer met hierdie gemarginaliseerde mense wie se blyplekke in die winter nie ophou lek nie en in die somer soos bakoonde versmoor en wat met halfleë mae saans gaan slaap. My pa maak my intens bewus van my voorreg en daarmee saam my verantwoordelikheid as bevoorregde. Al het ons as bruin gesin min politieke mag gehad, word ek as tiener toenemend sosiaal-polities Bewus van wat in ons land gebeur en word aangemoedig om ’n standpunt in te neem daaroor. Ek word Bewus van Christus se sosiaal-politiese agenda wat gelykloop met Sy Verlossingsdaad aan die kruis. Dis ’n teologie wat gebore is uit ’n duidelike verstaan van die konteks en ’n worsteling met God midde in die konteks. My ouers se posisie van Bewus en deels Ontmagtig, maar ook doelbewus Bemagtige reaksies is sterk beïnvloed deur die aktiewe keuse wat hulle maak om betrokke te wees by die Kerk en mense in nood (geestelik, sosiaal en polities). Hierdie aktiewe keuse wat hulle maak het ’n ingrypende invloed op die visie wat ek vandag as Christenleier het.

 

Politieke veranderinge in Suid-Afrika bring nuwe realiteite

 

Met die dramatiese politieke veranderinge in ons land aan die begin van die negentigs het ek (Elize) skielik ervaar dat ek in ’n nuwe realiteit lewe – ek het akuut bewus geraak van die pyn en lyding van die meerderheid van Suid-Afrikaners. Ek het begin vrae vra oor die geskiedenis en deur doelbewuste gesprekke en kweek van vriendskappe met swart en bruin kollegas bewus geword van die rol wat my mense en my kerk gespeel het in die strukturele geweld van apartheid en die effek daarvan op individue en gesinne se lewens. Die besef van my blindheid en die maniere waarop die bose sisteem my my lewe lank bevoordeel het, het gedreig om my te oorweldig. Ek het my werk en roeping as Christen-sielkundige bevraagteken omdat ek besef het dat ek net tien persent van die gemeenskap dien terwyl die negentig persent wat nie toegang tot my dienste het nie enorme trauma verduur het en nood ly. Ek wou graag iets doen en het my tyd en dienste vrywillig aangebied aan mense vanuit arm gemeenskappe.

 

Toe het ’n ander pynlike realiteit my (Elize) getref – my lewenservaring as bevoorregte wit Suid-Afrikaner en my opleiding binne die mediese model het dit vir my byna onmoontlik gemaak om sin te maak en te reageer op die probleme waarmee die mense uit arm bruin en swart gemeenskappe geworstel het nie! O hoe dikwels het ek nie gewens dat ek weer in die plek van Onbewuste getuie kon wees, daar waar ek nie die effek van armoede op die lewens van kinders en hul families gesien het nie, blind was vir die wanhoop van VIGS, die implikasies van geweld en mishandeling, die vernedering van ongeletterdheid, die hulpeloosheid van werkloosheid en die ondermynende effek van die lewenslange behandeling as tweedeklas burger nie. Ek het geworstel met vrae soos – hoe kon ons al die jare so vroom aanbid terwyl ons so liefdeloos geleef het? Die pyn, hartseer, skuld en magteloosheid wou my oorweldig en het ’n vernietigende effek op my liggaam gehad – ek is met ’n major depressiewe episode gediagnoseer.

 

Na skool in 1992 begin ek (Michelle) Jeugwerk studeer aan die Hugenote-Kollege in Wellington. Ek is in die tweede groep anders-kleuriges wat aan die Kollege studeer. Die konteks waarbinne ek kies om te studeer staan in skrille kontras tot dit waaraan ek my lewe lank gewoond is. Vanuit my kulturele oogpunt beskou is Hugenote-Kollege ’n bastion van die NG Kerk en wit Afrikaners. Hier word ek bewus van my Andersheid. My andersheid wil nie lekker pas in my nuwe konteks nie. So Bewustelik soos wat ek in my vorige konteks geleef het, so Onbewus is ek hier van hierdie nuwe konteks, en so Ontmagtig.

 

Ek sukkel om taal te vind om die ervarings van Onbewus en Ontmagtigheid wees wat ek hier beleef het te beskryf. Dalk is dit omdat ek juis binne die nuwe konteks nuwe taal moes aanleer, al was die nuwe konteks meermale onsensitief vir my stories en my konteks. Ek het gesukkel om my ervarings van wie God is te vereenselwig met wie God vir ander is in my nuwe konteks. Ek onthou dat daar van my klasmaats was wie se roepingsverhale gelykloop het met hulle verhale van diensplig. Hoe is dit moontlik dat die God wat ek as kind leer ken het iemand wat die een dag op die dak van ’n kasper “vrede” in die “townships” bewaar, die volgende dag tot Sy diens roep? Die beste wat ek kan doen is om Bewus te word van hierdie vreemde konteks wat nie wil pas nie, die vrae te leef en my konteks met ander, wat oop is daarvoor, te deel. Ek leer hier om die vrae eers net te formuleer, en sukkel nog met die Teologiese raamwerke wat my kan bemagtig.

 

Ons huidige posisie as geestelike leiers

In die tyd van die depressie is ek (Elize) gedwing om vir ’n onbepaalde tydperk verlof te neem uit my praktyk en te begin soek na benaderings tot my werk wat meer insluitend sou wees. Ek het begin fokus op ’n benadering tot terapie wat die sosiaal-politiese konteks en magsverhoudings in aanmerking neem in die werk met kliente en gemeenskappe. Die toenemende Bewuswording van die pyn van mense is steeds nie gemaklik nie, maar word ’n brandende passie om effektief te reageer. My geloofslewe is nou meer geintegreerd met my lewe binne die konteks waarin God my geplaas het en waar Hy my roep. My passie vir die God van liefde en geregtigheid groei en ek ervaar dat God my gawes gebruik om Sy visie te dien.

 

In 2002 hervat ek (Michelle) my Teologiese studie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hier het ek ’n groter Bewussyn van die twee kontekste wat by die Teologiese Kweekskool moet saamleef. En ek is Bemagtig om ’n aktiewe getuie te wees. My klasmaats kom van UWK asook dié wat op Stellenbosch begin het. Ek beweeg so tussen die posisies van Bewus en Bemagtig en Onbewus en Ontmagtig soos wat ek tussen kontekste beweeg en Teologies sin maak daaruit. Hierdie keer tydens my studies is ek ’n NG Kerk lidmaat en studeer as NG Kerk student. Ek is bewus van die aanvanklike skeptisisme van al my klasmaats aan beide kante – VGK en NGK. Onlangs is ek beroep as predikant in die NG gemeente Helderberg. My passie is God se insluiting van almal, sy liefde vir ’n wêreld in nood en  ek beleef hoe Hy my gawes laat ontluik in hierdie konteks wat die Ander vir my verteenwoordig.

 

 

Slot/Kernsamevatting

Ons is daarvan oortuig dat geestelike leiers geseën word met God se visie van liefde vir die hele werêld terwyl hulle in interaksie met die Ander toeneem in bewuswording van die nood van die wêreld. In gebedsinteraksie met God en interaksie met mekaar word geestelike leiers se passie gevoed en word hul bemagtig om hul gawes in diens te stel van mense in nood.

 

Vrae vir persoonlike oordenking:

  1. Watter mense/groepe verteenwoordig die Ander in jou lewe en watter moeite doen jy om hulle beter te leer ken?
  2. In watter blokkie by die tipologie is jy i.t.v. sosiale kwessies soos armoede, VIGS, rassisme, seksualiteit, gesinsgeweld, geweld ens.
  3. Wat sou jy kon doen om jou te bemagtig tov situasies waar jy ontmagtig is?

 

 

Vrae vir groepsbespreking:

  1. Bespreek die stelling: “Petrus gebruik godsdienstige wette om die Ander te vervreem.”
  2. Op watter wyse gebruik ons as leiers ons godsdiens/bepaalde Bybelse interpretasies om mense te vervreem.
  3. Hoe bemagtig ons as leiers die gemeenskap van gelowiges om ons Christenskap so te interpreteer/integreer dat dit ander nie vervreem nie.

 

 

 

Biografiese besonderhede;

Elize Morkel, kliniese en voorligtingsielkundige in privaatpraktyk, ouderling NG gemeente Helderberg, Somerset-Wes.

Michelle Boonzaaier, predikant NG Gemeente Helderberg, Somerset-Wes.