Die menswaardigheid van vroue – ‘n uitdaging aan die kerk

Excelsus Lentekonferensie 2013

Sessie 1

1.Inleiding

Wanneer ons oor die menswaardigheid van vroue praat, praat ons onmiddelik van geslag en geslagtelikheid. Geslag (sex) verwys na die biologiese verskille tussen die geslagte terwyl geslagtelikheid (gender) verwys na uitdrukking en betekenis wat ons aan manlikheid en vroulikheid gee. Ons verstaan van manlikheid en vroulikheid is sosiale konstrukte wat met verloop van tyd binne verskillende kulture kan verander. Om gender stereotipes te verken, sou ons op die volgende stellings kon reageer:

Oefening[1]

  • Mans is….
  • Vroue is…
  • Mans behoort…
  • Vroue behoort….

Die voltooide stellings gee ons ‘n beeld van ons eie gender-konstrukte. Hierdie stereotipes is oop (of nie) vir weerlegging en uitdaging deur wat ons in die volgende drie dae gaan bespreek.

2. Patriargie en die Bybel

Patriargie verwys na ‘n wêreldbeskouing waar manlike lede van die samelewing posisies van mag beklee. Die woord is afgelei van die Griekse patria wat “vader” beteken en arche, wat “heers” beteken. Claassens (2012: 149) verwys na die feit dat Bybelse tekse ‘n sleutelrol speel in die vorming en instandhouding van ‘n patriargale wêreldbeskouing. Hierdie patriargale wêreldbeskouing in die teks dra by tot ‘n wereldbeskouing in eietydese samelewings waar dieselfde as waarheid aanvaar word. Baie vroue en mans het hierdie patriargale waardes en wereldbeskouing geinternaliseer en kyk meestal onbewustelik deur hierdie lens na die teks en na hul wereld sonder om dit te bevraagteken.

Volgens Claassens (2012: 149) bied feministiese Bybelse interpretasie ‘n handige hulpmiddel ten einde die patriargale waardes binne die teks te dekonstrueer. Mense het dikwels voorbehoude oor die gebruik van die term “feminisme”. Ongelukkig laat hierdie gesprek nie ruimte om al die verskillende strominge binne feminisme te bespreek nie. Die bevrydende krag van ‘n feministiese benadering lê daarin dat dit gelykheid tussen mans en vroue wil bewerkstellig sodat volle menswaardigheid vir almal bereikbaar kan wees. Claassens verwys tong-in-die-kies na ‘n “bumper-sticker” wat lees: “Feminism is the radical notion that women are people.”

3. Die gevaar van patriargale mag

Deesdae word patriargie verstaan as ‘n wereldbeskouing of filosofiese paradigma wat ‘n spesifieke stel waardes, oortuigings en metodes reflekteer. Chittister (1998:25) verduidelik dat patriargie op vier beginsels berus wat onderling met mekaar verbind is, naamlik dualisme, hierargie, oorheersing en essensiele ongelykheid. Volgens Chittister is die volgende die toetstene van ‘n partriargale wereldbeskouing:

  • Dualisme (bv die skeiding tussen rede en emosies, hiervolgens word mans as denkers vs vroue as emosioneel beskryf/gestereotipeer)
  • Hierargie (die wereld werk van bo na onder en diegene aan die bo-punt is geneties gekodeer om meerderes te wees)
  • Oorheersing (diegene aan die bopunt van die hierargie beheer en domineer die ander)
  • Essensiele ongelykheid (aangebore meerder- en minderwaardigheid, maw geneties gekodeer, bepaal die hierargie)

As ons op hierdie manier na mag en bevoorregting kyk, sien ons die komplekse wisselwerking tussen gender, klas, ras en ekonomiese oorheersing. Fiorenza (1984: xiv) fomuleer dit as volg:

Patriachy as a male pyrmid of graded subordinates and exploitations specifies women’s oppression in terms of the class, race, country and religion of the men to whom we belong. This definition of patriarchy enables us to…conceptualize not only sexism, but also racism, property-class relationships, and all other forms of exploitation or dehumanization as basic structure of women in oppression.

Dualisme: Mans vs Vroue: Mans ‘behoort tot die personeel” vs vroue behoort nie. Dit versterk die idee van ons vs hulle en wie is in en wie is uit. Volgens patriargale denke word die plek en “rol” van die vrou as privaat ( binne die huis) en plek van mans as publiek (buite die huis, bv by die werk en in openbare leiersrolle) beskryf.

Hierargie: Op die onderskrif word die hierargie duidelik aangedui met “Hoofvoorsitter”!, dan “ hoofklerk”, dan ander personeel en dan die “versierings”

Oorheersing: Manlike dominansies word weerspieël in die manier waarop die vroue dmv hul verbintenis met hul mans geidentifiseer word. Ek lei af dat Mevv C du Plessis en AG Visser, waarskynlik die vroue van Mnr CI du Plessis en Mnr AG Visser wat ook op die foto verskyn, is!

Let op die taal en hoe dit ook “authoritarianism” en paternalisme weerspieel – die woord “behoort” impliseer “eiendom van” en “kan gebruik word deur”. Hierdie woord neem agentskap weg, ook van mans wat tot ‘n organisasie se personeel “behoort” en binne organisatoriese hierargië werk.

Essensiele ongelykheid: Die beskrywing van vroue as “versierings” ontmenslik die vroue en stel hulle voor as passiewe gebruiksartikels wat nie behoort waar belangrike mans werk nie, maar wel deur mans gebruik kan word op die mans se terme en soos dit die mans pas.

Geslagsrolverdeling van patriargie is duidelik – mans is aktief, hulle werk en behoort tot ernstige, denkende aktiwiteite en organisasies daarteenoor moet vroue mooi lyk, stil bly, hul plek ken en het net toegang tot die publieke domein op grond van hul mans se lidmaatskap. Let ook op die woord “dien” – dis mos wat vroue behoort te doen – hier “dien” hulle as versierings! Mans behoort en vroue dien!

Vroue internaliseer ook patriargale waardes en dus lyk die vroue baie gelukkig en heel in hul skik om as versierings op die foto’s te verskyn, mens vermoed selfs dat Mev GJ Berg, Mev N M Meyer en die ander mevroue waarskynlik nog bietjie jaloers sou kon voel dat hulle nie gekies is om “as versierings te dien” nie!

4. Patriargale mag en die hantering van rasverskille (kortliks)

Die manier waarop met rasseverskille omgegaan is/word kan ook verstaan word o.g.v. bogenoemde toetstene van patriargie, bv:

Dualismes – die hele beginsel van apartheid is gebaseer op die idee van ons en hulle wat apart moet gehou word. Wit hoort hier, swart hoort daar.

Hierargie – Daar is/was ook hierargie ter sprake in hoe oor ras gedink word, so het ons dus Wit, Indier, Bruin en Swart as groepe van bo na onder. Onderlinge rassisme en onderdrukking tussen hierdie groepe is algemeen bekend.

Oorheersing – Die oorheersing van ‘n wit minderheid oor ‘n swart meerderheid op elke terrein van die samelewing kan nouliks beter illustreer word as met die apartheidswetgewing en sisteem.

Essensiele ongelykheid – Daar is geglo (deur navorsing binne sielkunde en sosiologie gestaaf!) dat swart mense inherente verskille toon teenoor wit mense wat biologies bewys dat hulle minderwaardig is, bv die idee van ‘n kleiner brein en dus intellektuele minderwaardigheid. Die idee dat swart mense se seksuele drange sterker en ook moeiliker beheerbaar is die van wit mense het saamgehang met die beskouing van swart mense as primitiewe weses wat biologies laer op die rangorde van menslikheid figureer. Die minderwaardige onderwys van swart mense was ‘n uitvloeisel van die idee dat swart mense nie werklik die vermoë het om intellektueel te presteer en te vorder nie. Ons kan aan nog baie ander negatiewe stereotipes tov swart mense dink.

5. Die implikasies van patriargale mag binne die hedendaagse samelewing

Bevoorregting

Mense wat hulself aan die bopunt van die hierargie bevind, leef dikwels asof dit hulle reg is om voorregte en mag te hê. Wit persone leef dikwels met die aanname dat wit die norm is en is maar net dankbaar dat hulle wit is sonder om in te sien dat die sogenaamde meerderwaardigheid van witmense ‘n stuk rassitiese ideologie is wat swart mense benadeel. Iemand wat in ‘n welgestelde familie gebore is, word dikwels geleer dat sy/hy rykdom verdien en dat dit hul reg is sonder om die verwantskap tussen rykdom en armoede binne die samelewing te besef. Claassens (2012: 149) haal Ebert aan wat tov geslagverkille opgemerk het: “Male privilege is like running with the wind in your back, and you do not even know that the wind is blowing.”

Geslagsrolle in huwelik en samelewing

Reuther (1996: 174) wys daarop dat, ten spyte van veranderinge t.o.v. die regte van vroue gaan patriargale kultuur, veral deur godsdiens, voort om die ideal van die afhanklike huisvrou, wie se werk en plek hoofsaaklik in die huis is, voor te hou. Die idée dat die een geslag die ander aanvul of komplementeer, is deels gebaseer op die ooglopende fisiologiese verskille tussen die geslagte, maar is hoofsaaklik gebaseer op tradisies van die interpretasie van die Bybel sowel as histories-gebaseerde Christelike praktyke (Gelder 1996: 33).

So het die aanname ontstaan dat die geslagte nie volledig is sonder die ander nie.

Bybelse aansprake dat vroue en mans geskape is om mekaar aan te vul of te komplementeer, begin met die skeppingsverhaal in Genesis. Die argumente vir rigiede komplementering is dat die vrou geskape is uit die man, vir die man, na die man en benoem deur die man, alles aanduidend van haar minderwaardigheid (Gelder 1996: 33). Bybelkenners verskil onderling oor die interpretasie van die Nuwe Testamentiese tekste wat gebruik word om te sê dat die onderdanigheid van vroue ‘n goddelike instelling is en dat dit verkeerd is vir vroue om leiding te neem. Gelder wys ook daarop dat hierdie tekste gebruik is as bewyse om die argumente te staaf dat vroue minderwaardig is teenoor mans sowel as haar posisie as tweederangse of onvolledige beeld van God. Aangesien hierdie argumente in die konteks van patriargie plaasgevind het, is ‘n hermeneutiek van suspisie oor die gevolgtrekking van vroulike minderwaardigheid en rigiede komplementering geregverdig.

Rigid complementarity is a type of apartheid. It pays lip service to a form of equality between the sexes but sees nothing valuable in women beyond their difference from men. It is inextricably linked with false claims about inferiority of women. It works to prevent both women and men from developing full humanity and more perfectly imaging God.  (Gelder 1996: 34)

Isherwood & Mc Ewan (1993: 24) beskryf hoe hierdie rigiede komplementering die volgende stereotipes tot gevolg het:

Sex-role stereotypes, sweetly smiling females neatly turned out and proportioned, ever submissive, docile, helpful, as if developed according to a formula, replicate the pattern of domination and subordination: if one sex is defined as being submissive, if stress is laid on this quality, then it follows that the other sex is rightfully dominant.

Patriargie raak almal binne die samelewing. Morrell (2001: 17) beskryf die dominante diskoers oor die verwagting van wit mans gedurende die apartheid era soos volg: “being a protector, a wage-earner and knowing the right thing to do”. Toe duisende wit mans hul werk verloor het as gevolg van transformasie en herstrukturering in die begin 1990’s het hulle ervaar dat hulle die sentrale deel van hul identiteit as “broodwinners”, soos deur die patriargale samelewing aan hulle voorgehou, verloor het. Die verpligte militêre diensplig vir alle jong, fisies gesonde, wit Suid-Afrikaanse mans in die 1970’s en 1980’s het die lewens van duisende jong mans geraak:

For one or two years the lives of 18-year-olds were largely controlled by corporals and sergeants, many of whom were tough and crude professional soldiers… Afrikaans schools and churches participated in pro-government indoctrination…. The puritan sense of duty was invoked to mobilize and motivate young men for military service.

Idee oor essensiele verskille lei tot stereotipering van mans en vroue wat beperkend inwerk op die uitlewing van mans en vroue se gawes, identiteit en deelname in die samelewing. Bv manne en weermag, broer wat moes boer, grond en eienaarskap, druk op mans as materiele versorgers, beroepe wat tradisioneel as manlik en vroulik beskou is, beperkings op vroue in beroeps en openbare lewe, werksdruk op vroue wat buite huis werk en steeds verantwoordelik gehou word vir werk binne die huis, minderwaardige betaling vir huiswerk ivm buite huis werk. Druk op vroue om te trou en kinders te hê as uitdrukking van normale, Godgegewe roeping.

Sessie 2

1. Posisie van vroue binne die Suid-Afrikaanse samelewing

Geweld teen vroue

Om volledige en betroubare statistiek te verkry oor geweld teen vroue in Suid-Afrika is uiters moeilik omdat die getal aanmeldings nie die werklike frekwensie daarvan reflekteer nie. Tog is daar wel goeie pogings tot navorsing in hierdie verband – en die prentjie lyk skokkend.

  • SA het van die hoogste voorkoms van geweld teen vroue in die wêreld (Ramphele 2008).
  • Vier kategorieë van mishandeling op vroue word onderskei, naamlik ekonomiese, emosionele, fisiese en seksuele mishandeling (Bollen et al 1999). Al vier vorme van mishandeling vind die mees algemeen binne die huis plaas (Rasool et al 2002).
  • Suid-Afrika het van die hoogste voorkoms van verkragting in die wêreld (Jewkes et al 2009). In ‘n studie deur die Mediese Navorsingsraad het 27,6% van die mans wat deelgeneem het, gesê dat hulle ‘n vrou of meisie verkrag het (Jewkes et al 2009).
  • Seksuele geweld impakteer meer as ‘n derde van Suid-Afrikaanse meisies voor die ouderdom van 18 jaar (Jewkes et al, 2009).
  • Gesinsgeweld met fisiese geweld op vroue word bereken op een uit drie of een uit vier vroue. “Intimate Femicide” – moord op vroue deur ‘n lewensmaat – ‘n studie in 1999 bevind dat in SA daagliks vier vroue op hierdie manier vermoor word (Matthews et al, 2004).

NB!! DVD van Annerie Joubert – geweld en onderdrukking van vroue in hoer middelklasgroepe. (Speel VTS_01_0)

Vroue en Armoede

Die geweld van armoede raak vroue in Suid-Afrika direk. Vroue, in die algemeen, maar veral swart en bruin vroue, verdien minder as mans. Werkloosheid kom meer voor onder vroue as mans en hierdie kombinasie dra by tot die sogenaamde “feminization of poverty” of konsentrasie van armoede in gesinne waar vroue die hoof is (Amoateng et al 2004).

Die volgende faktore speel ‘n rol by die armoede wat vroue beleef:

  • Toegang tot werksgeleenthede, vlak van indiensneming en besoldiging;
  • Toegang tot en vlak van opvoeding en onderwys;
  • Huishoudelike werk en toegang tot ontspanning (sg 2e skof v onbetaalde werk tuis);
  • Toegang tot besit van eiendom;
  • Armoede en ouerskap;
  • Indiensneming/loopbane en moederskap;
  • Die rol van globalisering
  • Gelykheid in die werkplek;
  • Gelyke werk, gelyke besoldiging;
  • Die glasplafon;
  • Seksuele teistering;

Mercy Amba Oduyoye points to the impact of globalization, which leads to the employment of cheap labour and resources at the cost of the local inhabitants:

Many are the economic widows and orphans who are being created by the poverty-enhancing syndrome of globalization. Africa has known many traumatic displacements of her population. When southern African men left women and children to serve in the mines of Egoli, they began a trend which continues to this day. Women and children who are expecting fathers and sons to return, to bring wealth or send a contribution for the management of the family have been regularly disappointed. These women and children have worked the land and themselves dry, trying to survive.( p 152 of Men in the Pulpit book)

Vroue en HIV&VIGS

 Volgens die statistiek van 2005 maak vroue 77% uit van die 5 miljoen Suid-Afrikaners wat met die HIV virus geinfekteer is. Nog meer skokkend is die feit dat 25% van die vroue in die ouderdomsgroep tussen 20-24 geaffekteer is. Dit is een uit vier vroue in vergelyking met een in veertien mans wat geinfekteer is in dieselfde ouderdomsgroep. (www.unaids.org)

Faktore wat vroue meer kwesbaar maak, sluit die volgende in: vroue se hoër fisiologiese kwesbaarheid om geinfekteer te raak; kulturele praktyke soos lobola waar die man redeneer dat hy baie betaal het vir sy vrou en dus nie ‘n kondoom gaan gebruik nie; die mite oor seks met ‘n maagd wat VIGS kan genees en die gevolglike hoe voorkoms van verkragting van jong vroue en die migrasie arbeidsisteem wat veroorsaak dat mans wat in die stede werk die virus huis toe bring na die landelike gebiede waar hul vroue woon.

Vroue is ook verantwoordelik vir die versorging van diegene wie se lewens geimpakteer word deur HIV&VIGS – dit sluit diegene wat geinfekteer is wat versorg moet word en ook die 2 miljoen VIGS-wesies wat dikwels deur ouma’s en vriende versorg moet word.

Die gesprek oor Suid-Afrikaanse vroue sluit ‘n geweldige diversiteit van etnisiteit, ras, klas, godsdiens en seksuele oriëntasie in en daarom kan Suid-Afrikaanse vroue se realiteite en belewenisse onderling radikaal verskil. Die een ding wat alle vroue in Suid-Afrika egter in gemeen het, is dat die ideologie van patriargie domineer in alle kulturele en etniese groepe. ‘n Ander sterk gemene deler is dat 79.8% Suid-Afrikaners met die vorige sensusopname verklaar het dat hulle die Christelike geloof aanhang (Stats SA, 2004).

Patriargie is ‘n hiërargiese sisteem van sosiale organisasie waar mans magposisies teenoor vroue beklee. Patriargale ideologie is veral invloedryk omdat dit dmv kondisionering ook die toestemming en ondersteuning verkry van die vroue wat daardeur onderdruk word. Instellings soos die kerk, akademie en gesin regverdig en versterk vroue se onderdanigheid aan mans met die gevolglike internalisering van ‘n gevoel van minderwaardheid teenoor mans. Navorsing toon ‘n baie sterk verband tussen die onderdanigheid van vroue en geweld op vroue.

2. Getuienisposisies

Kaethe Weingarten, ’n Amerikaanse professor in die sielkunde, het die impak van getuie-wees van trauma op mense bestudeer. Sy het ’n tipologie ontwikkel wat vier getuienisposisies voorstel na aanleiding van die mate waarin mense bewus is van dit waarvan hulle getuies is en die mate waarop mense dan bemagtig daarop reageer.

All of us, whichever role (victim, perpetrator, witness) we are currently in, can witness ourselves. We can become aware of what we see – witnessing ourselves as witnesses. We can become aware of what has happened to us – witnessing ourselves as victims. We can become aware of what we do to others – witnessing ourselves as perpetrators. More able to witness ourselves in each of these roles, we will be better able to witness others in each of these roles as well.  (Weingarten 2003:26)

  

Die Effek van die verskillende getuienisposisies

Posisie 1: Dit verteenwoordig ’n posisie waar mens ’n bewuste en bemagtige getuienis is van geweld en onreg. In hierdie posisie is dit vir ’n mens moontlik om met helderheid effektiewe aksie te neem. ’n Mens sal geneig wees om in hierdie posisie effektief, bemagtig en hoopvol te voel.

Posisie 2: Hierdie mag die mees gevaarlike posisie wees vir ander. Mense wat geweld en onreg waarneem, maar onbewus is van wat hulle waarneem en tog reageer asof hulle weet wat hulle doen, kan oneffektief of selfs skadelik optree. Die negatiewe effek van hierdie posisie kan verrykende gevolge hê, veral as die persoon vanuit ’n magsposisie reageer.

Posisie 3: Hierdie posisie is uiters ongemaklik omdat die persoon bewus is, maar nie weet wat om te doen of hoe om op te tree nie. Dis dikwels ’n posisie waar mens regtig oorweldig en selfs desperaat mag voel. Vanuit hierdie posisie word mens se energie, inisiatief, entosiasme en selfs bereidheid tot aksie dikwels ernstig geimpakteer.

Posisie 4: Wanneer ’n persoon onbewus en onmagtig is, is die effek op die self en op ander baie sleg. Die kanse is dan baie goed dat die persoon nie sal optree wanneer optrede geverg word nie en passief sal bly wanneer aksie baie belangrik is. ’n Slagoffer mentaliteit asook ’n hopeloosheid kan deel word van so ’n persoon se lewe. Indien aksie wel geneem word, is dit dan ook dikwels oneffektief of skadelik.

Ons beweeg altyd tussen hierdie posisies soos wat ons leef en nuwe kontekste en verhoudings beleef. Ons het altyd die keuse om op te beweeg na ’n posisie van groter Bewussyn en Bemagtiging. Soos wat mense se bewussyn groei, kan hulle oorweldig, skuldig en getraumatiseer voel en dalk verkeerdelik dink dat hulle van Bewus na Onbewus kan beweeg – daar waar hulle net afgestomp en gevoelloos kan wees, maar dit bring nie werklik verligting nie. Ons moet leer hoe om “op” te beweeg na Posisie 1 waar groter Bewus–wees ook met groter Bemagtiging gepaard gaan.

Teoloog Denise Ackermann (1998:90) skryf: ‘The longing for changes that will mend the world, is born in awareness.’

The healing we require is one which combines both a rigorous accountability to our different communities and histories with a reaching across differences to ‘the other’ seeking collaboration in the cause of healing, and being prepared to be vulnerable yet actively contributing and concerned citizens. (Ackermann 1998: 91)

Dit wil voorkom asof dit waarna Ackermann verwys as bewyssyn, verantwoordbaarheid en heling dieselfde is as die bewus en bemagtigde response van Weingarten.

Verantwoordbaarheid

My verantwoordbaarheid (accountability) is nie teenoor my intensies nie, maar teenoor die effek van my woorde, gedrag en houding op die ander persoon of persone. Dit is dus nie goed genoeg om te verklaar dat ek nie iets so bedoel het nie, ek moet by die persoon wat seergekry, aanstoot geneem of benadeel is, uitvind wat hulle ervaring is en daarvoor verantwoordelikheid neem al was my bedoeling nie om seer te maak nie. Dit is die implikasies van ’n bewuste en bemagtigde respons.

3. Gender en die media

Jean Kilbourne se video Killing us softly III (7 min)

http://www.youtube.com/watch?v=ufHrVyVgwRg&list=PL4F6FB12D8A0D5845

4. Gender konstruksies en taal

Post-strukturalistiese teorie verduidelik die verhouding tussen die individu en die sosiale konteks. Weedon (1987:3) verduidelik dat die sosiale instellings wat ons as individue betree – bv die gesin, skool, universiteit, kerk en modekultuur – ons voorafgaan. Ons leer dat die waardes en norme waarna hul streef en die maniere waarop hulle opereer/werk, natuurlik en goed is. Dis hoe ons bv van kleins af leer wat meisies en seuns – en later, mans en vroue- behoort te wees (“subject positions”). Hierdie maniere van wees as individue mag soms ook in stryd wees met mekaar en dan kan ons kan kies tussen hulle. Alhoewel daar ‘n wye reeks “subject positions” vir vroue bestaan, betrek al die moontlikhede vroue steeds by ‘n proses waar ons die primere rol, nl die van eggenote en moeder, wat voordurend aan ons voorgehou word moet aanvaar, onderhandel of verwerp. Foucault se idee van “self-survailance” in reaksie op dit wat voorgehou word as “natuurlik” in ‘n gemeenskap sou kon verduidelik hoe vroue en mans hierdie dominante diskoerse of idees internaliseer en daarvolgens begin optree.

Vir Foucault (Burr 1995:62) bied ‘n diskoers ‘n verwysingsraamwerk van waaruit die wêreld geinterpreteer word en betekenis gemaak word. Sommige diskoerse het groter potensiaal om “common sense” of waarheid-status aan te neem. Dit beteken dat ander diskoerse in die proses op ‘n gegewe tydstip gemarginaliseer word in ‘n kultuur. So sou ons kon sê dat, ten spyte van al die vordering en veranderinge ten opsigte van die regte van vroue, die patriargale kultuur, veral deur middel van godsdiens, steeds daarin slaag om die ideaal (diskoers) van die afhanklike huisvrou wie se hooffunksie binne die huis is, in stand te hou. In post-strukturalistiese teorie is taal die gemene faktor in die analise van sosiale organisasie, sosiale betekenis en mag sowel as sosiale bewussyn. Die taal wat ons gebruik reflekteer dus die aannames waarop ons denke berus.

Oefening oor taal en diskoerse

Lees die volgende opmerkings of voorbeelde van gesprekke en bespreek:

(a) Die onderliggende aannames of stereotipes wat dit reflekteer;

(b) Wat is die moontlike effek van die tipe aannames of steretipes op verskillende groepe in die samelewing?

(c) Wie word bevoordeel en wie word benadeel?

  1. ‘n Vrou groet ‘n vriendin met die woorde: “ Jy lyk wonderlik! Het jy gewig verloor? Jy lyk 10 jaar jonger!”
  2. ‘n Ma leer haar kinders om dinge geheim te hou wat sy dink haar man mag onstel. Sy sê gereeld: “Ons vertel maar liewer nie vir Pappa hiervan nie, hy sal tog nie verstaan nie.”
  3. Nadat sy dogter haar doktorsgraad in teologie behaal het verduidelik ‘n predikant-pa aan sy dogter dat sy liewer nie haar titel moet gebruik nie omdat dit haar man, ook ‘n predikant, in die verleentheid kan stel en sy gesag kan ondermyn.
  4. ‘n Wit Afrikaner man sê in geselskap: “Bediendes is die beste ‘bargain’ van die lewe in Suid-Afrika – waar in die wêreld kan jy beter waarde vir geld kry? Selfs met ons onlangse vakansie in Botswana het die bediendes ons ingewag by die grens. Ons het net daar langs die pad vir ons een opgelaai agter op die bakkie. Dis hoe die mense verseker is van kos vir ‘n paar dae – hulle wag daar langs die pad om vir die toeriste te werk. Daardie bediende het ons vinnig gehelp kamp opslaan en die nag het sy in die bos verdwyn en more-oggend word ons wakker met ‘n kamp wat aan die kant is, die skottelgoed gewas en die koffiewater wat kook! Wat ‘n bargain!”
  5. ‘n Dominee verduidelik waarom dit moeilik is om vroue in leiersposisies in die kerk te verkies: “Die meeste van die vergaderings is in die aand wanneer die ma’s na hul kinders omsien.”
  6. ‘n Man merk teenoor ‘n vriend op: “Jou vrou lyk goed. Ek kan sien jy kyk goed na haar!”
  7. “Die rol van die vrou in die huwelik” verskyn as onderwerp vir ‘n praatjie op die afkondigings.
  8. ‘n Seun wat deurloop onder boelies by die skool se pa reageer met: “Jy moet ook nie so ‘n sissie wees nie, slaan daai ouens net een maal hard en hulle sal jou uitlos.”
  9. ‘n Dominee bid vir die vroue in die gemeente wat moet werk.
  10. ‘n Groepie kerkleiers (vroue en mans) eet saam by ‘n restaurant. Een van die mans sê aan die kelnerin: “Jy kan nou maar self besluit watter man lyk vir jou na die een met die meeste geld en vir hom die rekening bring.”
  11. ‘n Pa verklaar: “Ek het aan my dogter verduidelik dat sy sal moet aanvaar dat haar man se loopbaan voorrang geniet en dat sy hom sal moet volg waar hy beroep word”.
  12. By die verwelkoming van die ouers van nuwe leerders by ‘n Hoërskool stel die skoolhoof die lede van die Beheerliggaam bekend. Die ses mans word bekend gestel met verwysing na elkeen se professionele agtergrond (prokureurs en finansiële mense). Toe hy die enigste vrou bekendstel, verwys hy slegs na die lieflike tafelrangskikkings wat deur haar gedoen is.
  13. ‘n Vrou kla teenoor haar ma dat haar man haar beledig, heeltyd saam met sy vriende kuier en bakleierig raak as hy gedrink het. Haar ma reageer met: “My kind, jy moet maar die minste wees. Byt maar vas. Hy sorg mos darem goed vir jou. Miskien kan jy ook ‘n bietjie harder probeer om hom gelukkig te hou.”
  14. Op ‘n pre-advies kommissie is daar twee vroue wat hulle sterk uitspreek teen die beroep van ‘n vrou as predikant “omdat vroue nie predikante behoort te wees nie”.
  15. Op Moedersdag sê die dominee dat hy hoop die pa’s braai vandag vleis sodat die ma’s bietjie kan afvat.
  16. Twee manne gesels by die vuur oor hul seuns en die een sê: “Jong, dis darem jammer die army-dae is verby. Ek wens ek kon my twee stuur sodat die army mans van hulle kon maak.”
  17. Nadat ‘n vrou se termyn as voorsitter van die kerkraad verstryk het, word die mening uitgespreek dat daar darem nou weer ‘n slag ‘n man verkies moet word. Dit was die tweede keer in die 40 jaar geskiedenis van die gemeente dat ‘n vrou kerkraadvoorsitter was. .
  18. Uittreksel uit die huweliksformulier in die liturgieboek: Opsie B:Bruid:
  19. Beloof jy dat jy hom nooit sal verlaat nie, dat jy hom in liefde sal eerbiedig en help, soos ‘n godvresende vrou aan haar man verskuldig is?
  20. Bruidegom: Beloof jy dat jy haar nooit sal verlaat nie, dat jy haar in liefde sal lei en beskerm soos ‘n godvresende man aan sy vrou verskuldig is?
  21. Ek loop ‘n jong egpaar met hul baba raak en die man verduidelik aan my dat hy besluit het dat sy vrou nie na haar professionele werk sal terugkeer nie, want “ek het uitgewerk sy is vir my finansieel meer werd is as sy by die huis bly”.
  22. In ‘n kerkvergadering waar 16 mans en 4 vroue teenwoordig is, word die vergadering deur een van die manlike lede as “broers” aangespreek. Toe die “broer” sy fout agterkom, bied hy die volgende korrektief aan: “Vir my is die vroue al so deel van die kerkvergaderings dat ek hulle as manne beskou.”

 Sessie 3

 1. Vroue en die Kerk

In die NG Kerk oorheers mans steeds tov gesag, leierskap en die amp van predikant. Die diakensamp is sedert 1982 oop vir vroue, terwyl vroue sedert 1990 tot die amp van ouderling en predikant toegelaat word. Slegs 4.6% van die totale aantal geordende predikante in voltydse poste binne die NGKerk is vroue. (Algemene Bevoegdheidsraad van NGK, 2013). Uit die totale getal vroue wat hul teologiese studies voltooi het, is sleg 29.7 % voltydse predikante. (Alg Bevoegdheidsraad van NGK, 2013). Vroue word dikwels in kontrak of deeltydse poste aangestel. Binne die leierskapstrukture op sinodale vlak is daar posisies vir addionele wat vir vroue predikante en ouderlinge gereserveer word. Vroeer vanjaar is Ds Norma Rossouw deur die Wes-Transvaalse sinode as die eerste moderator van ‘n sinode verkies. In feitlik alle vergaderings op sinodale en ringsvlak is vroue by verre in die minderheid.

Diegene met stem en gesag teenoor die stemloses

Die weerstand teen vroueleierskap binne die kerk is baie deeglik gedokumenteer. Julie Clague (1996:12 & 13) verduidelik hoe manlike leierskap oorheers binne die magtige geïnstitusionaliseerde kerkstrukture met mans in posisies van gesag wat uitgenooi en gekwalifiseerd is om met gesag te praat. Die effek van die tipe gesag word deur Clague (1996: 13) as volg beskryf:

It has been men who, on the whole, have held positions of authority, and have been described as authorities and have been said to speak with authority. Women, on the whole, have been ruled and have obeyed, have been denied their voice, and have been denied the opportunity to become authorities in their own right.

Aquilar (1996: 44) verduidelik verder hoe teologie gesien is as nader aan die intellek as die hart van die mens. “It has for centuries been developed in libraries and through the reading and re-reading of books” (Aquilar 1996: 44). Teologie kan gesien word as ‘n instrument van beheer in ‘n patriargale samelewing waar manlike predikante opgetree het as die enigste interpreteerders van God se boodskap en openbaring met hul rasionele antwoorde op die misterie van God. Seksisme in die kerk word ook duidelik geflekteer deur die eksklusiewe taal deur die weglating van vroulike voornaamwoorde en metafore in gesange, Skriflesing en prediking (Tatman 1996:214).

Feministiese Christelike teoloë het ‘n nuwe visie om aan hul kerke te bied- “an inclusive model that pervades the system from grassroots level to abstract theological concepts” (Isherwood & Mc Ewan 1993: 131). Soos Ackermann (2003: 50) glo ons dat die kerk ‘n instrument in die hand van God is om die belofte van genesing vir die skepping waar te maak. Sy verwys na Paulus se eerste brief aan die Korintiërs waar hy die kerk die Liggaam van Christus noem en duidelik aandui dat die lede van die Liggaam onderling verbind, interafhanklik en onmisbaar is. Vroue, soos alle gedooptes, het gawes om aan te bied om die Liggaam meer Christus-gelykvormig te maak.

Vroue is dikwels bang om hul opinies uit te spreek binne mansgedomineerde geloofsgemeenskappe. Bons-Storm (1998: 23) verduidelik dat baie vroue letterlik gewoond moet raak om hul eie stemme te hoor in gesprek met of in die teenwoordigheid van mense met gesag soos predikante. Die tweede stap is nog moeiliker, naamlik om vroue te oortuig dat hulle wel iets waardevol het om by te dra. Vir ‘n vrou om by hierdie punt uit te kom, moet sy die effek van die tradisionele rolle wat aan haar opgedra is in haar sosialisering in ‘n patriargale samelewing en kerk onder oë neem. Daarsonder sal sy waarskynlik nie in die kerk met gesag kan praat sonder skuldgevoelens en onsekerheid nie. Die vrae waarmee vroue worstel is: Weet ek genoeg hiervan? Klink ek dom? Verduidelik ek myself goed genoeg? Is ek nou te dominerend, onaantreklik, emosioneel? Hierdie onsekerhede moet ernstig opgeneem word en kan nie maar net afgemaak word met goedkoop woorde van aanmoediging nie. Vroue het nuwe stories oor hulself nodig wat hulle die gesag gee om te praat. ‘n Vrou het ook ‘n beeld van God nodig wat haar sal bevestig en ondersteun om haar stem te laat hoor.

Nelle Morton (in Bons-Storm 1996: 11 & 12) se idée van “hearing to speech”  beteken letterlik dat ons so goed en geduldig moet luister dat iemand algaande die moed vind om te sê wat sy of hy bedoel. Dit verg van die luisteraar die gewilligheid om buite ons grense en kategorieë te luister. Dit mag selfs beteken dat ons ‘n ander taal moet aanleer as waaraan ons gewoond is terwyl ons diep bewus bly van wat gepraat word deur liggaamstaal sowel as woorde. Neuger (1996: 98) stem saam dat vroue en ander gemarginaliseerde persone gehelp moet word om hul realiteite in hul “moedertaal” te benoem en beskryf sodat die volle mensdom kan deelneem aan die voortdurende mede-skeppingsproses met God.

 Beliggaming

Feministe het nog altyd die liggaam-verstand dualism soos deur patriargie gekonstrueer betreur en beliggaming (“embodiment”) gevier (Waldron 1996: 66).

Feminists believe that failure to live deeply with our body, our feelings and our perceptions means that we lose our connectedness and our ability to relate. In feminist spirituality, this connectedness and relatedness has always been valued, and this is a point of differentiation from the male, whose tendency is to emphasize detachment.  (Waldron 1996: 66-67)

Feministe glo dat ons nie net op aarde is vir ‘n toekomstige doel wat ons mag bereik in ons verhouding met God nie, maar dat ons hier is “to relate, to weave and spin creative webs in our relationships and interactions and find God in our present situations and experiences” (Waldron 1996: 67). Ons doen dit deur ag te gee op ons onderlinge verbondenheid as deel van die lewe van alle beliggaamde wesens, terwyl ons onderdrukking weerstaan en daarna strewe om die wanbalanse van seksisme, rassisme, kultuur en klas te herstel (Waldron 1996: 68).

Die storie van die man Jesus van Nasaret in die wêreld sowel as sy lydende liggaam aan die kruis – die een liggaam gegee vir baie – vorm die hartslag van ons geloof. Christus se offer vee nie ons verskille uit nie, dit bied aan om die mure tussen ons af te breek, om weg te doen met uitsluiting, diskriminasie en vooroordele.

Through deliberate, embodied acts of acceptance and care, destructive differences which separate Jew from gentile, female from male, slave from free, black from white, and gay from straight, are overcome. Difference is accepted as God-given. Then we can be set free to accomplish God’s will in this world.  (Ackermann 2004:11)

Elaine Graham (1999:79) herinner ons daaraan dat ons liggame onderwerp word aan sosiale konstruksies in die vorm van standaarde en norme van skoonheid en normaliteit. Dit is dus belangrik dat ons voortdurend bewus bly van hoe ons met woorde en gedrag asook gebruik en uitleef van die Bybel en tradisie deelneem in die konstruksie van die liggaam (Dunlap 1999: 139). Ons sou kon deelneem aan die dekonstruksie van dominante diskoerse wat sou kon bydra tot die heling en bevryding van vroue van onderdrukkende en gewelddadige praktyke.

 Vroue se ervaring binne die kerk

Baie vroue se ervaring binne die kerk word goed opgesom deur Cochrane, De Gruchy & Petersen (1991:40):

The church, as institution, is dominated by men. Authority and places in decision-making bodies are overwhelmingly in male hands. Ordination is still largely a male preserve. Yet women, as much as men, are the church and always have been. They constitute its silent, if not silenced majority. Theological teachings on the worth and equality of all human beings are denied by the church’s praxis of treating women as second class members.

Ongelykhede in godsdienstige instellings word deur die Circle of Concerned African Women Theologians wat in 1989 deur Mercy Amba Oduyoye, ‘n Ghanese teoloog gestig is, nagevors en gepubliseer. Ackermann (2003: 186) haal Oduyoye aan:

…churches, which most often take the form of patriarchal hierarchies, accept the material services of women but do not listen to their voices, seek their leadership, or welcome their initiatives…Whatever is keeping subordination of women alive in the church cannot be the spirit of God. In the church we expect to experience “reciprocity and mutual respect, support and protection of each person’s freedom in continuum with our freedom as the children of promise”…It seems that sexist elements of Western culture have simply fuelled the cultural sexism of traditional African society.

Volgens Ackermann (2003:188) is dit die reg op menswaardigheid wat vroue in die kerk ‘n kragtige instrument gee waarmee hulle die kerk kan uitdaag. Sy baseer haar oortuiging op die feit dat menswaardigheid en die idée dat die mens geskape is na die beeld van God hand aan hand gaan.

Ons moet daarop wys dat baie vroue nie godsdienstige teorieë en praktyke bevraagteken nie – dit kan wees as gevolg van persoonlike oortuiging, sosiale en kulturele waardes of indoktrinasie.

Ackermann (2003: 187) verwys na die manier waarop minderwaardige beelde en praktyke geïnternaliseer word en hoe onkunde en vrees saamsweer om vroue stil te maak. Die onderdrukking van vroue deur ander vroue het aan die lig gekom in gevalle waar in sommige kerke gekwalifiseerde vroue nie beroep word na gemeentes nie omdat vroue teen die ordening van vroue as predikante gekant is (Pillay 2003: 148). Terwyl dit waar is dat baie kerklike strukture nog deur mans gedomineer word, is daar ook nou baie vroue wat deel uitmaak van kerke se leierskapstrukture wat glad nie die status quo bevraagteken nie, want hulle aanvaar die “natural order of things” (Pillay 2003: 148).

Pillay (2003: 151) waarsku dat waar vroue wel beroep word op grond van geregtigheid en gelyke geleenthede dit daartoe lei dat so ‘n motivering vir die insluiting van vroue die feit ignoreer dat vorm en formaat van patriargale bediening problematies is en dat dit ook getransformeer moet word. Sy (Pillay 2003: 152) haal Reuther aan:

Women are allowed in token numbers to integrate themselves into this male-defined role. They adopt the same garb, the same titles (Reverend, if not Father), and the same clerical modes of functioning in a hierarchical structured church

Reuther (in Pillay 2003: 152) wys ook daarop dat vir vroue in die bediening, soos met vroue in enige openbare rol onder manlike reëls: “are allowed success only by being better than men at the games of masculinity … In such a system it is not possible for women to be equal, but only to survive in a token and marginal way at tremendous physical and psychological cost”. Dit is dus van uiterste belang dat waar vroue hulself in leierskapsposisies bevind saam met mans in die kerk hulle hulself nie sal toelaat om net in te skakeer by die natuurlike gang van sake nie, maar dat hulle bedag sal wees daarop om alle persepsies, praktyke en strukture wat aanleiding gee tot verhoudings van onderdrukking en oorheersing te bevraagteken en uit te wys (Pillay 2003: 152).

2. Jesus en die Samaritaanse Vrou (Joh 4:1-42)

Inleiding

Narratiewe terapeute glo dat mense se lewens veelvuldige verhale omvat – dikwels kyk mense vas teen die dominante probleem-gevulde verhaal en dan sukkel hulle om die alternatiewe, hoopvolle verhale in hul lewens raak te sien of te herken. Wanneer ons na die lewens van vroue in die Suid-Afrikaanse samelewing kyk, sien ons oorweldigende stories van pyn, mishandeling, geweld, trauma, onderdrukking, werkloosheid, armoede, siekte, ongeletterdheid en swaarkry. Ons, as Christene, is ons ook bewus van ‘n storie van hoop (die alternatiewe storie) deur ons geloof in Jesus Christus en ons deelname in ons kerk en geloofsgemeenskappe. Hierdie alternatiewe storie is egter ook so half belaglik en onwaarskynlik omdat dit so teen die norme van ons samelewing indruis.

Ons gaan die storie van Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou by die put van Sigar lees met die oog op die ontginning van die vier toetstene van patriargie wat ook in hierdie verhaal, soos in ons hedendaagse samelewing die dominante en probleem-gevulde verhaal is. Ek wil dus vra dat julle sal kyk of julle die vier waardes, soos ons dit vroeer geidentifiseer het, in die verhaal kan identifiseer of raaklees. Ons gaan saam met die patriargale waardes begin soek na die kontra-kulturele waardes wat Jesus leer en leef in hierdie verhaal. Om ons daarmee te help het ek die Evangeliese waardes wat die alternatiewe storie vertel as volg benoem:

Patriargale waarde 1: Dualisme

Vs 9 Jode vs Samaritane; Vs 29 ‘n Man wat met ‘n vrou praat. ‘n Rabbi en rein vs ‘n onreine uitgewekene.

Evangeliese waarde 1: Eenheid

Vs 7 Jesus praat met haar – tree oor al die grense en hanteer haar as gewone mens – hy vra haar hulp met water- ondenkbare ding om te doen! Hy gaan verder en tree met haar in teologiese gesprek, hy bied vir haar die lewende water aan. Sy praat terug en en handhaaf haar in die gesprek – ook voorbeeld van ‘n vrou in die Bybel wat kontra-kultureel optree! Die Evangelie maak nie onderskeid tussen mense nie –opereer nie volgens ‘n ons/hulle-beginsel nie.

Patriargale waarde 2: Hierargieë

vs 1 Die Fariseers vergelyk die getal mense wat Jesus dissipels gemaak en gedoop het met die wat Johannes doop…In vs 16-19 sit Jesus sy vinger op die seer en onreg van hierdie vrou se lewe binne haar eie gemeenskap. Haar identiteit binne haar gemeenskap word bepaal deur die hoeveelheid mans sy gehad het en die feit dat sy nie getroud is met haar huidige man nie. Hierargie van sondes en sondigheid!! Die feit dat seksuele sondes so hoog op die ranglys van sondes is, dra by tot die stilte van vroue oor ervarings van seksuele teistering en ander seksuele geweld.

Evangeliese waarde 2: Gelykheid

As gevolg van die manier waarop Jesus met die Samaritaanse vrou praat – as ‘n gelyke – hy tree met haar in teologiese gesprek, het sy die vrymoedigheid om haar verstaan van die Skrif en tradisie met hom ted eel. Hy gee aan haar ‘n stem en sy vertel hoe haar voorvader Jakob by die put water gedrink het, hoe haar voorouers op die berg aanbid het en hoe die Jode verklaar dat net in Jerusalem aanbid kan word. Toe Jesus dus in vs 23&24 begin om haar te verras en verwar is sy dadelik op dieselfde bladsy vs 25 en dan kan Jesus bloot verklaar (vs 26) “ Dit is Ek wat met jou spreek!

Patriargale waarde 3: Oorheersing

Dissipels (vs 27 kom terug) is die manne wat Jesus ken, kennners van die Evangelie, mense met die mag en hulle bevraagteken dadelik hoekom Jesus met die vrou praat. Hulle ignoreer die vrou!! Dis ‘n baie powerful manier van domineer en “other” – ignoreer.

Evangeliese waarde 3: Samewerking en interafhanklikheid

Jesus draai die magshierargie op hul kop deur wat gebeur toe Hy met die dissipels begin gesels oor die kos wat hy eet (vs34) en hulle gladnie die metafoor van die kos verstaan nie terwly die Samaritaanse vrou baie goed die beeld van die water verstaan het. Trouens die vrou is reeds besig om die Evangelie te verkondig terwyl die dissipels nou nog bietjie sukkel om te verstaan…Vs 37 – Jesus is baie eksplisiet oor die idee van samewerking en interafhanklikheid met die onderrig oor een wat saai en die ander wat oes.

Patriargale waarde 4: Essensiële ongelykheid

Die manier waarop hierdie vrou uit haar eie gemeenskap verban is – daar is sy op die middel van die dag, alleen by die put. Sy word ook deur die dissipels herinner aan haar minderwaardige status as vrou en Samaritaan en een wat heel uit haar plek is deur hier met Jesus te gesels!

Evangeliese waarde 4: Menswaardigheid

Jesus behandel die vrou as menswaardig deur met haar te praat, oor geloof te praat en die lewende water aan te bied. Jesus transformeer haar – sy word geinspireer, en gaan met soveel vertroue, passie, oortuiging en entosiasme terug na haar gemeenskap (vs 29 & 30) dat baie van die mense haar glo (vs 39). Ons lees hier hoe die water wat God gee werklik “ ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” word in die vrou se lewe.

Ten slotte my teologiese uitgangspunt tov die menswaardigheid van vroue:

God het man en vrou na God se beeld geskape

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. (Gen 1:27)

Deur Christus bring God eenheid tussen mense – die skeiding tussen mans en vroue word dus afgebreek. (Gal 3:28 klassieke doopformulier)

Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een.

Jesus het sy lewe afgelê vir mans en vroue en verklaar: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed.” (Joh 10:10) Die lewe in oorvloed is dus vir almal – mans en vroue.

Bronnelys:

Ackermann, D.M. 2004. Who is the other? Embodying difference through belonging. In Welker, M. & Jarvis, C.A. (eds.). Loving God with our Minds: The Pastor as Theologian. Essays in Honour of Wallace M. Alston. Grand Rapids: William B. Eerdmans. 3-16.

Ackermann, D.M. 2003. After the Locusts. Letters From a Landscape of Faith. Cape Town: David Philip Publishers.

Ackermann, D (1998). A voice was heard in Ramah in Ackermann D & Bons-Storm R (ed) Liberating Faith Practices: Feminist Practical Theologies in Context. Peeters, Leuven.

Aguilar, M. 1996. Ecclesiology/Model of Church. In Isherwood, L. & McEwan, D. (eds.). An A-Z of Feminist Theology. London: Sheffield Academic Press. 43-45.

Amoateng, A.Y., Rochter, L.M., Makiwane, M., & Rama, S.  (2004). Describing the structure and needs of families in South Africa: Towards the development of a national policy framework for families. A report commissioned by the Department of Social Development.  Pretoria: Child Youth and Family Development, Human Sciences Research Council. Retrieved from: http://www.hsrc.ac.za/research/output/outputDocuments/2883_Amoateng_Describingthestructure.pdf

Bollen, S, Artz, A, Vetten, L & Louw, A (1999). Violence against women in metropolitan South Africa.   Institute for Security Studies Monograph Series.

Cochrane, J.R., De Gruchy, J.W. & Petersen, R. 1991. In Word and Deed: Towards a Practical heology for Social Transformation. Pietermaritzburg: Cluster Publications.

Graham, E. 1999. Towards a practical theology of embodiment. In Ballard, P. & Couture, P. (eds.).lobalisation and Difference. Practical Theology in a World Context. Cardiff: Cardiff Academic Press. 79-84.

Jewkes, R., Abrahams, N., Mathews, S. Seedat, M., Van Niekerk, A., Suffla, S., Ratele, K. (2009). Preventing Rape and Violence in South Africa: Call for Leadership. In A NewAgenda for Action. MRC Policy Brief. Retrieved from:  http://www.mrc.ac.za/gender/prev_rapedd041209.pdf

Jewkes, R., Sikweyiya,Y., Morrell, R., Dunkle, K. (2009). Understanding Men’s Health and use of Violence: Interface of Rape and HIV in South Africa. MRC and UNISA. Retrieved from:  http://www.mrc.ac.za/gender/violence_hiv.pdf

Matthews, S, Abrahams, N, Martin, L, Vetten, L, van der Merwe, L & Jewkes, R (2004)

Neuger, C.C. 1996. Pastoral counseling as an art of personal political activism. In Neuger, C.C. (ed.). The Arts of Ministry Feminist-Womanist Approaches. Kentucky: Westminster John Knox Press. 88-118.

Every Six Hours a Woman is Killed by her Intimate Partner: A National Study of Female Homicide in South Africa. Tygerberg:  MRC.

Ramphele, M. (2008). Laying Ghosts to Rest: Dilemmas of the transformation in South Africa. Paarl Print: South Africa.

Rasool, S, Vermaak, K, Pharoah, R, Louw, A & Stavrou, A (2002). Violence Against Women A National Survey. Pretoria: Institute for Security Studies.

Weingarten, Kaethe (2003). Common Shock – witnessing violence every day: How we are harmed, how we can heal. New York: Dutton.

Ackermann, D.M. 2004. Who is the other? Embodying difference through belonging. In Welker, M. & Jarvis, C.A. (eds.). Loving God with our Minds: The Pastor as Theologian. Essays in Honour of Wallace M. Alston. Grand Rapids: William B. Eerdmans. 3-16.

Clague, J. 1996. Authority. In Isherwood, L. & McEwan, D. (eds.). An A-Z of Feminist Theology. London: Sheffield Academic Press. 12-14.

Pillay, M. 2003. Women in the church solidarity in suffering in the context of HIV/AIDS? In Sporre, K. & Botman, H.R. (eds.). Building Human Rights Culture. Falun: Högskolan Dalarna. 142-163.

Tatman, L. 1996. Sixism. In Isherwood, L. & McEwan, D. (eds.). An A-Z of Feminist Theology. Sheffield Academic Press, London. 213-214.

Waldron, J.W. 1996. Feminist spirituality. In Isherwood, L. & McEwan, D. (eds.). An A-Z of Feminist Theology. London: Sheffield Academic Press. 64-68.

[1] Oefening geneem uit Claassens, L.Juliana M (2012) Teaching gender at Stellenbosch University p 148.