Hoe luister ek?

Verantwoordelike Vernuwing

NG Kerk Stellenberg

19 Augustus 2005

Skrifgedeelte: Die barmhartige Samaritaan volgens Luk 10: 25-37

1. Luister is relasioneel

Sodra ons van luister praat, is verhouding onmiddellik ter sprake. Die aard van die verhouding bepaal in ‘n groot mate hoe ek luister.  Wanneer die telefoon lui, is jou eerste gedagte: Wie kan dit nou wees? Dan antwoord jy en sukkel om uit te maak: Wie is dit wat praat? Daardie paar oomblikke terwyl jy probeer uitvind wie dit is, is van is deurslaggewend. Dit gebeur so maklik dat jy die belangrike boodskap van wie aan die ander kant van die lyn is, misverstaan en dan op maniere reageer of luister wat jou die kat aan die stert laat beetkry – tot jy uitvind WIE dit nou eintlik is wat praat en na gelang van jou verhouding met daardie persoon begin sin maak van wat jy hoor!

Ons verhouding met God impliseer ‘n liefdesverhouding. In Mat 6:9, die aanvang van die gebed wat Jesus ons leer bid, gee Hy met die eerste paar woorde erkenning aan die soort verhouding waarin ons tree wanneer ons met God praat. Hy gebruik die beeld van God as Vader.

As ‘n sielkundige wat al jare lank na mense se pynlike ervarings in verhoudings luister, weet ek maar alte goed hoe onvolmaak en selfs gewelddadig sekere gesinsverhoudings kan wees. Vir baie mense het dié beeld dus eerder pynlike as liefdevolle assosiasies. Ek glo egter dat die meeste mense wel tog al ervarings van liefdevolle verhoudings gehad het. Sal julle saam met my probeer om ‘n beeld te kry van die soort verhouding waarin ons tree wanneer ons probeer om na God te luister?

Dink ’n oomblik na en laat jou gedagtes saam met my gaan – aan iemand (uit die verlede of hede) by wie jy totaal veilig voel; iemand wat jou verskriklik geliefd laat voel, iemand wat die slegste van jou weet en nogtans aan jou kant is, jou vergewe en bereid is om opofferings te maak om dinge vir jou beter te maak; iemand wat jou baie goed ken en verstaan en as dinge vir jou skeefloop, jou wil troos en bystaan, iemand wat graag met jou praat en jou wonderlike dinge wil leer, wys en vertel indien jy belangstel. Miskien dink jy aan ‘n ouer, grootouer, suster/broer, vriend, kollega, lewensmaat of iemand wat jy lank gelede net kortstondig geken het. As jy nou iets van daardie verhouding beleef, kan jy dit tot die uiterste vermenigvuldig en weet: dít is die soort verhouding waarin jy is as jy na God luister. Ons weet immers dat die Heilige Gees wat in ons woon en met God se stem praat, as Trooster beskryf word.

As jy nou vir ‘n oomblik wegkyk van jouself, sien jy dat God se liefde almal insluit – die hele wêreld. Hoe lyk so ‘n liefdesverhouding wat almal insluit? Jesus Christus het hierdie liefde kom beliggaam deur aan die kruis vir die sondes van die wêreld te sterf, maar ook deur die manier waarop Hy op aarde met mense geleef het.

2. Kontekstuele luister (Luk 10:25 – 37)

Hoe leer Jesus ons luister? Kom ons gaan terug na die voorbeeld van jou foon wat lui. Ek luister heelwat anders na my ma se stem oor die telefoon om 4nm op ‘n Saterdag as 4vm op ‘n Saterdagmôre… Of na my man se stem as hy van sy kantoor uit die stad bel teenoor sy stem uit die buiteland of uit die hospitaal se ongevalle-afdeling… Die konteks waarin ons luister, het ‘n groot invloed op die manier waarop ons luister; wat ek hoor, hoe ek verstaan en hoe ek gevolglik reageer.

Jesus skep dus konteks vir die wetgeleerde wat hom ‘n strikvraag probeer vra oor wie nou eintlik sy naaste is. Dis duidelik dat die wetgeleerde dink om God lief te hê, dis heel eenvoudig, maar dis die storie van jou naaste liefhê wat vaag is en waarmee hy Jesus sal vasvra. Hy is duidelik van mening dat “God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand” eintlik losstaan en niks te doen het met “en jou naaste soos jouself” nie. Dan vertel Jesus vir hom ‘n storie wat mooi illustreer hoe lyk so ‘n liefde vir God wat liefde vir die naaste uitsluit: Dis die soort luister na God deur iemand wat vinnig en doelgerig kerk toe en raadsaal/vergadering/byeenkoms/kantoor toe loop maar totaal en al DOOF is vir die man wat halfdood langs die pad lê.

As ek die gedeelte reg verstaan, is dit duidelik dat ek nie na God kan luister sonder om te luister na die stemme van mense in nood om my nie. Dat die stemme langs die pad die stem van God verteenwoordig. Ek glo dat as die NG Kerk praat van vernuwing of transformasie is dit HIER waar die vernuwing moet gebeur – by die soort kontekstuele luister na God wat die kerk doen.

In die Junie-vakansie van 1976 was ek ‘n eerstejaarstudent op Stellenbosch toe ons, nadat Oom Johan Bell ons gegroet en met ‘n gebed uitgestuur het, na die Transkei is vir ‘n weeklange werkerskamp. Daardie nag sit ek en Hettie Hugo voor in die bakkie met Oom Carel Olivier wat ons span van Decoligny na Zithulele neem. Ons is halfpad aan die slaap ná die lang busrit, maar Oom Carel is uitgehonger vir gesels. Hy wil weet wat die studente se reaksie is op die opstande in Soweto. Ek onthou goed dat ek nie mooi kon verstaan waarin hy so vreeslik geïnteresseerd was nie. Ons lewe is deur die gebeure geraak bloot in die vorm van met groot oë toekyk hoe die manne van die manskoshuise kom wagstaan by ons dameskoshuise en die opgewondenheid van koffie en eetgoedjies vir hulle aandra. Verder het my lewe maar gewoon aangegaan met klasloop, koffiedrink en kerktoegaan, ja – stiltetyd hou, ACSV-kringe bywoon en sendingwerk doen op die plase…

Vroeër vanjaar het ek ‘n werkswinkel in terapeutiese vaardighede in Oos-Londen aangebied. Een van die sielkundiges in die groep was Wilhelmina Mtoba, ‘n Xhosavrou van ouer as 60 jaar en ‘n uitgesproke Christen. Toe ek ‘n vrywilliger soek om ‘n gesprek mee te voer sodat ek van die terapeutiese vaardighede in die groep kan illustreer, bied Wilhelmina aan om met my te gesels. Sy begin toe praat oor ‘n insident wat sy nog nooit tevore bespreek het nie. Sy vertel hoe sy in Junie 1976 in haar huis in Gugulethu was en hoe die polisie daar ingebars en gevra het waar haar sestienjarige seun is. Sy het toe reeds gesien hoe die polisie jong mense wat by die opstande betrokke was, in hegtenis neem. Omdat sy geweet het haar kind is onskuldig en sy geglo het dat eerlikheid en samewerking met die polisie haar van moeilikheid sou vrywaar, het sy hulle na haar seun se kamer geneem. Sonder om na enige verduidelikings te luister, is hy summier en hardhandig in hegtenis geneem en in ‘n vangwa weggeneem. Maande lank het sy nie geweet waar hy is nie, briewe en pakkies wat sy gestuur het, het teruggekom. Die polisie het nie eens geantwoord op vrae oor waar in die land hy aangehou was nie.

In ons gesprek het Wilhelmina baie klem gelê op die liefdesverhouding met en omgee van haar wit kollegas en vriende by die Rooi Kruis Kinderhospitaal waar sy toe ’n verpleegkunde-dosent was. Hulle het alles gedoen om te help om inligting te bekom, maar kon niks uitvind nie. Haar man en hul ander kinders was ‘n jaar lank in die Oos-Kaap waar hy aan die Universiteit van Fort Hare met ’n M-studie besig was. Sy wou hom nie ontstel nie terwyl hy so ver was en niks aan hul kind se verdwyning sou kon doen nie. Sy het die angs oor haar kind alleen gedra terwyl sy haarself verwyt het dat sy hom verraai het. Toe hy maande later teruggekeer het, was hy nie meer dieselfde mens nie.

Hy wou nie oor sy ervaring praat nie; tot vandag toe as 46-jarige man het hy nog nooit met haar hieroor gepraat nie… In dieselfde opleidingsgroep in Oos-Londen luister ‘n sewentigjarige pastorale terapeut, ‘n wit vrou, na Wilhelmina se storie en raak bitterlik ontsteld en bars huilend uit: “I cannot bear to listen to this. I experience again after all these years the powerlessness of that time. In our best efforts to help we were not able to spare people this kind of trauma. I and many of my friends have been detained for our efforts, yet look how little impact it had.”

Drie Christenvroue, dieselfde land, dieselfde gebeure maar totaal verskillende belewenisse en herinneringe. Hoe is dit moontlik dat ek so ongeraak was? Hoe het hierdie gebeure wat derduisende gesinne se lewe so diep geraak het, by my verby gegaan? Ek kan nie help om te sien hoe ek die priester en die Leviet in die storie van die barmhartige Samaritaan verteenwoordig nie; die mens wat so haastig op pad is na die kerk en die vergaderings, maar DOOF was vir die hulpgeroep van die halfdooie man langs die pad.

Karl Barth beklemtoon die kontekstuele luister na God en sê ons moet met die Bybel in die een hand en die koerant in die ander hand lees. Watter koerant lees ek en jy in ‘n land waar 50% van die mense ongeletterd is? Ons kan kies waarop ons in ons konteks wil fokus. Wanneer ons die halfdooie man langs die pad om hulp hoor roep, kan ons kies hoe ons luister. Maak jy gou somme oor hoe jou lewe ontwrig sal word as jy besluit om iets vir hom te doen? En dan besluit jy om maar verlangs verby te hou en uit te kom by jou voorkeur-konteks, tussen jou eie mense, daar waar jy aansien het, waar mense ook soos jy dink en glo; die kerk en belangrike vergaderings waar mense graag na jou belangrike stem luister? Mooi betyds, netjies, met geen bloed of stof aan jou klere nie of erger nog: self aangerand deur die rowers wat nog in die bos skuil?

Of sal jy syne jou konteks maak en jouself toelaat om te wonder wat sal van hom word as jy nie die risiko aangaan, jou reis onderbreek, uit jou pad gaan, jou klere laat vuil word nie? Sal jy jou fyn uitgewerkte “time management” laat deurmekaar loop en bietjie van die geld waarvoor jy en jou voorgeslagte “self so hard gewerk het” uitgee om hom te laat versorg?

Aan die begin van die jare negentig het die Here met my begin praat oor my suksesvolle praktyk as sielkundige; daar waar ek binne vier jaar genoeg werk gehad het om drie sielkundiges baie besig te hou. In die mooi kantore by Medi Clinic in Somerset-Wes tussen die dokters waar sukses gemeet word aan vol afspraakboeke en goeie diens aan pasiënte. Die Here het my ongemaklik kom maak deur my gedurig op verskillende maniere te wys dat ek ondanks my sukses en gewildheid besig is om net 10% van die gemeenskap te bedien. Ons land was aan die brand en ek is op verskeie maniere gekonfronteer met die ontsettende nood van die 90% wat nie ‘n mediese fonds het nie, wat nie kan betaal nie; die mense op die rand van my konteks. Ek het allerhande planne begin maak om mense wat nie kon betaal nie, in te sluit, maar het ontdek dat selfs wanneer ek tyd aan arm mense skenk, ek met my mediese-model-opleiding, beskermde en bevoorregte agtergrond NIKS gehad het om te bied of uit te put om ‘n verskil te maak nie. Gevoelens van magteloosheid en onbevoegdheid om te help het gegroei saam met die skuldbesef dat my mense, my kerk en ekself verantwoordelik was vir baie van die armoede, vernedering, onderdrukking en pyn van mense in die groter konteks van ons land.

Die Here het my begin wys hoe ek persoonlik soveel voordeel getrek het uit die onregte aan ander. Ek het ervaar dat my ou manier van doen net nie meer wou werk nie en het begin knak onder die las wat God op my kom lê het. Baie dinge wat ek as vanselfsprekend aanvaar het, het skielik verander. Die maatskappy waar my man ‘n baie suksesvolle korporatiewe loopbaan gehad het, het mense begin afdank en so het sy professionele loopbaan tot ‘n einde gekom. Baie van ons kollegas met hul doktorsgrade en tegniese kundigheid het na die buiteland padgegee. Die samelewing soos ek dit geken het, het totaal verander.

In 1997 is ek met ‘n major depressie gediagnoseer en medikasie, asook maande van verlof, het nie gehelp nie. Ek het besef dat ek sou moes ophou werk en wag tot God my wys wat Hy vir my in gedagte het. Twee jaar lank het ek meestal op my bed gelê en na die berge gekyk. Algaande het die Here vir my gewys hoe ek kon werk op ‘n manier wat die mense op die rande, aan die periferie, insluit. Dit het beteken ek moes van die huis af werk om koste te beperk sodat ek tyd vir gemeenskapswerk kon skep.

Ek is ‘n bietjie skaam om dit te erken, maar vir ‘n vrou wat 12 jaar lank teen infertiliteit gestry het, uitgesluit was van haar geroepe en gekose loopbaan as predikant as gevolg van haar geslag; wat in ‘n kerk was waar my gawes verwelkom is solank ek net my plek ken en niemand bedreig nie… vir so iemand was dit MOEILIK en PYNLIK om die een ding wat niemand van my kon wegvat nie, nl. my beroepsukses as sielkundige, eenkant toe te skuif om van die rande en op die rande te begin werk. Gedurende die afgelope jaar se beroepsonsekerheid moes ek en Jaco mekaar telkens daaraan herinner dat die prys wat hy [ons?] betaal, gering is in die lig van die onregte waaraan ons deel het deur die feit dat ons blankes, Afrikaners en NG Kerk-lidmate is. Boonop het ons steeds so baie in die vorm van bevoorregte opleiding en ander geleenthede wat ons ten koste van ander verkry het.

Ek het swaar gekry. En ek het begin vrae vra oor my kerk en hoe dit moontlik was dat ek al die jare ‘n liefdevolle God geken het, die liefde van my ouers vir God gesien en beleef het, vreugde in die Here se liefde en teenwoordigheid ervaar het en dat ek tog so DOOF kon wees vir die mense in nood langs die pad. Ek het intussen ‘n paar dinge begin leer wat vir my hierop lig gewerp het.

3. Die invloed van magsverhoudings op luister

Een van die dinge wat ek geleer het, is dat daar in alle verhoudings magshierargieë ter sprake is. Diegene met die meeste mag word die gouste, meeste en maklikste gehoor. Hul boodskap dra ook die meeste gesag en bepaal waarop ons reageer. ‘n Paar van die dominees by die Helderberg-gemeente het bietjie geskrik toe hulle in ‘n oefening besef het dat as hulle Engelssprekend was, was hulle danksy geslag, ouderdom, ras, klas, geleerdheid, liggaamlike geskiktheid, godsdiens, woonomgewing, professie en seksuele voorkeur van die groep wat die meeste mag in die Suid-Afrikaanse samelewing het. As sodanig het hulle dus uiters beperkte ervaring van nie-gehoor-word-nie maar baie ervaring van gehoor word, gereken word, ingesluit word en erken word.

Mense wat hulself in kontekste bevind waar hulle stem as minderwaardig geag word, word later stil, veral in daardie kontekste. In die 25 jaar wat ek as sielkundige praktiseer, hoor ek dikwels dat ‘n ouer sê: “Ons verstaan nie hoekom het ons kind so iets gedoen nie. As ons kind maar net met ons wou praat”. Of ‘n man sê: “Ek het altyd gedink ons is so gelukkig getroud. Ek verstaan glad nie hoekom my vrou wil skei nie”. Ek sien hoe die vrou haar kop skud en sê: “Ek praat al jare hieroor, maar hy’t nooit belanggestel om te luister nie.” Of vroue wat tien, twintig jaar nadat dit met hulle gebeur het vir die eerste keer praat oor ‘n verkragting of molestering, want wie sou haar glo teenoor die woord van die kerkraadslid-oom/oupa/stiefpa/pa/broer met sy vooraanstaande werk en gesiene posisie? Lees maar “Dis ek, Anna” van Elbie Lötter. Só raak mense stemloos.

Ek wil by die lidmate en ampsdraers van die NG Kerk pleit – doen moeite om sensitief te raak vir die invloed van magsverhoudinge op wie se stemme julle hoor en hoe julle na hulle luister. Jesus se storie van die barmhartige Samaritaan illustreer dit so mooi: Die manne met die mag en geleerdheid, status en posisie, afkoms en agtergrond sukkel om te hoor en sukkel glad nie om verby te hou nie. Dit is die Samaritaan wat self marginalisering ervaar, die vreemdeling wat weet hoe dit is om nie gehoor en geag te word nie wat die halfdooie man regtig kan hoor en op sy nood reageer.

Ons individualisme en strewe na “die wenner wees”, “bo uitkom”, “ons volle potensiaal benut” en “die hoogste sport bereik” het ons doof gemaak vir die stemme van ander, veral vir dié wat aan die rand van ons gekose konteks leef. Hoe luister ons na die

stemloses?

4. Beliggaamde luister

Die luister na stemloses verg ‘n “beliggaamde luister”. Ons is super-fiks in kopluister en intellektuele godsdiens, maar lyk vir my redelik onfiks en dom as dit by dié soort luister kom, want dit verg dade wat vir ons as middelklas-mense nie so maklik en gemaklik is nie omdat dit nie heeltemal by ons waardesisteem inpas nie.

4.1 Uit jou pad gaan

Middelklasmense se pad gaan nie sommer spontaan met die mense aan die rande, buite die stadspoorte, kruis nie. As ons hulle stemme wil hoor, sal ons fisiek uit ons pad moet gaan om by hulle uit te kom. Die barmhartige Samaritaan moes stilhou en “na hom (die man) toe gaan”. Jesus stel so duidelik die voorbeeld in Sy bediening op aarde deur buite die stadspoorte te gaan en met die mense op die rande gesprekke aan te knoop. Jy sal uit jou pad moet gaan, mense in hul eie omgewings gaan ontmoet en die ongemak moet verdra van vreemd, onveilig en selfs onwelkom wees. Selfs al kry ons dit reg om diegene vir wie ons altyd uitgesluit, verstoot, veroordeel of onderdruk het om vergifnis te vra en in te nooi, kan ons nie verwag dat die speelveld eensklaps gelyk gaan wees en die lug gesuiwer sal wees vir lekker luister en gesels nie.

Moet ons nie ook aan onsself as die rowers in die gelykenis dink nie? Is dit nie waar dat ons mense se grond, huise, woonbuurte, onderwysgeleenthede, reg op keuse van lewensmaats, stemreg en menswaardigheid deur voortdurende tweedeklas-status en – behandeling gesteel het nie? Het ons en ons voorgeslagte nie welvarend geword deur mense se arbeid te misbruik nie? Stel jou voor: die rowers wat die man beroof en aangerand het, kry berou en kom terug om hom te help. Wat sal die ernstig beseerde man doen? Ek sien hom verder in die bossies inkruip, homself beskerm en die hande wat uitgesteek word byt, terwyl hy skop en slaan en homself met elke greintjie krag verdedig.

Waar vertroue oor jare heen geskend is en onregte gepleeg is, is daar wonde en goeie rede vir mense om hulself te beskerm teen verdere, dikwels goed-bedoelde onsensitiwiteit en seerkry. Die leiers van die NG Kerk sal moeite moet doen om na die stemme van o.a. swart mense, vroue en gay mense te luister, uit ons pad moet gaan en oor en oor probeer en oor en oor en duisend maal oor en oor die minste moet wees en moet wys dat ons REGTIG graag wil hoor. Ons sal mense wat ons uitgeskuif en seergemaak het, op hulle voorwaardes en in hul taal moet aanhoor. Dit verg ‘n uit die pad hou van jou eie slimgeit en agenda en selfs jou baie goeie bedoelings om dié wat jy stil en stemloos help maak het, “tot spraak te luister”.

Nelle Morton aan wat sê: “Speaking first to be heard is power over. Hearing to bring forth speech is empowering.” As pastorale terapeut wat met vroue werk wat seksueel gemolesteer is, praat sy van “listening the voiceless into speech”. Hoe kan ons so uitnodigend luister dat stemloses nie anders kan as om te praat nie?

4.2 Luister met jou hele liggaam

Ek het ‘n paar jaar in skole vir dowes gewerk en daar het ek, meer as op enige ander plek, geleer om met my hele liggaam te luister. Dat jy net kan verstaan as jy bereid is om tyd te neem en ALLES tot jou beskikking in te span om te verstaan. Luister impliseer veel meer as woorde. “We listen for and to the messages conveyed by the body, by feelings, expressions, thoughts, visions, dreams, the imagination, smells… and we listen to what is said, partially said and not said.” (Johnella Bird in “The Heart’s Narrative”). Dit is ‘n intense, gefokuste luister. Die barmhartige Samaritaan hou stil, klim van sy rydier af, kyk na die wonde, neem die omgewing waar en kry die boodskap. Die verwonde man langs die pad kyk en luister na die Samaritaan om te bepaal of hy hom kan vertrou. Ai tog, dat ons kan dink dat ons dit vir mense kan wegsteek as ons hulle nie respekteer nie en kan maak asof ons nie dink ons is beter as hulle nie!

4.3 Deelnemende bewussyn

As ons met ons hele liggaam luister, laat ons ook toe dat dit wat ons hoor ons aanraak en met ons eie lewe op ‘n deelnemende manier resoneer. Deelnemende bewussyn beteken dat ek myself toelaat om te wonder / dink? hoe dit vir my sou wees as dit ek was wat in hierdie situasie was. Ek soek in my eie leefwêreld aktief na resonansie met wat ek hoor sodat ek tot aksie beweeg word. Die barmhartige Samaritaan het die man gesien en hom “innig jammer gekry”. Hy vra homself af: “Wat sou ek nou nodig gehad het as dit ek was wat hier gelê het?” Die onderskeid tussen self en ander raak vaag namate ek met die ander identifiseer. Toe Cassie Carstens as pa van ‘n gay seun by die Algemene Sinode hieroor praat, raak dit mense wat bereid was om daaraan te dink dat dit hul kind kon wees, emosioneel en beweeg dit hulle tot ‘n nuwe verstaan en word dit vir hulle moontlik om nuwe posisies in te neem.

4.4 Beliggaamde respons

Luister sonder dade van liefde beteken niks. Dit is seker hoekom ons so dikwels liewer doof is of wegbly van sekere boodskappe, want die eise wat deur ’n reaksie ons op wat ons hoor gestel word, is dikwels nie so maklik nie. Dit vra opoffering. Die Samaritaan behandel die halfdooie man se wonde met olie en wyn en verbind dit, laai hom op sy eie rydier, neem hom na ‘n herberg en laat versorg hom nog verder. Jesus maak dit duidelik dat die Samaritaan se beliggaamde reaksie op die man langs die pad Sy definisie verteenwoordig van wie die naaste is. Die “twist in the tale” is dus dat die naaste nie die gewonde man is nie, maar die Samaritaan. Jesus sê vir die wetgeleerde gaan wees jy so ‘n naaste – een wat sien, luister en doen. Nou sê ons mos so dikwels maar die nood is oorweldigend; ek los liewer want ek weet nie waar om te vat en te los nie. Ons hoef dit nie alleen te doen nie! Die Samaritaan vat die man na die herberg en los hom in die sorg van die herbergier wat ook nou bydra tot die man se versorging. As jy my wil laat rooi sien, is dit die hooghartige manier wat ons het om altyd SELF ons EIE projekte deur die Kerk te wil loods. Dis vir my moeilik om dit nie as magsbeheptheid te sien nie! Daar is soveel aksies en projekte waarby ons ondersteunend betrokke kan raak. As ek kyk na die werk wat ander mense bloot uit humanitêre oorwegings doen, kry ek dikwels skaam… Maar nee, ons wil mos van niemand leer nie.

5. Luisterhouding

5.1 Luister om verras te word

Ek leer baie omtrent luister uit die gesprek tussen die wetgeleerde en Jesus. Die wetgeleerde se gesprekshouding is om Jesus uit te vang en sy eie slimmigheid ten toon te stel. Hy ken klaar die antwoord en stel nie regtig belang daarin om na Jesus te luister nie. Hy wil eintlik maar net bevestig wat hy glo hy reeds weet. Hy toets eintlik vir Jesus om te sien of Hy ook weet. Jesus verras hom egter met Sy antwoord. Ons kan verwag om verras te word as ons kontekstueel na God begin luister. As ons vra na God se wil en begin lewe met ore wat oop is vir diegene op die periferie, kan ons verwag om verras te word. Aan die ander kant sal ons God nie hoor as ons net soek vir bevestiging van dit wat ons reeds weet / Dalk eerder: glo. Of: “dit wat ons meen ons reeds weet” nie!

5.2 Luister as aksie tot begrip

Met jou hart oop om van die Here te leer, kan jy jou hart ook oopmaak sodat God jou deur die lewens van ander sal leer. ‘n Luistery “van bo” sal jou nie ver bring nie. Om waarlik te luister verg moeite en nederigheid en honderd maal vra, want mense wat stemloos gemaak is, is dikwels ook vir hulself onhoorbaar en onsigbaar. Ons taak is om so van hul lewe kennis te neem dat hul waarde weer vir hulleself sigbaar word. Laat toe dat God jou ore instel op daardie stemme. Gebruik jou verbeelding en moenie moedeloos raak nie. Hou jou eie kennis en verstaan van die wêreld en van God lig en relatief en stel jouself oop om te leer en nuwe ontdekkings te maak. Hersien voortdurend jou eie verstaan, eerder as om dit die heeltyd te verdedig of op ander af te druk. En glo regtig dat ander mense (veral dié met minder mag en status soos kinders, gestremdes, ongeletterdes, vroue ) baie het om jou te leer.

5.3 Selfrefleksiewe luister

Wanneer ons tyd neem om te luister na die woorde wat ons gebruik wanneer ons praat, kan ons begin om ons eie idees en waardes voor God te bevraagteken. So kan God ons help om meer begrip te kry vir waar ons eie fokus is. In die pers word gesê dat die NG Kerk in ‘n krisis is en dan lees jy dat die maatstaf vir die krisis die afname in lidmaatgetalle is. Toe die NG Kerk apartheid gesteun en regverdig het, het ons glad nie gedink die kerk is “in die moeilikheid” nieoe was Beyers Naudé volgens ons in die moeilikheid. Nou moet ons erken en bely dit was verkeerd en on-Bybels, ja ons moet selfs saamstem dat apartheid een van die ergste menseregteskendings in die moderne geskiedenis is, en skielik is “Oom Bey” almal se held. Ek sê nie die aantal lidmate is irrelevant nie, maar ek wonder tog: As ons transformeer of vernuwe om getalle te probeer remedieer, is ons nie dalk besig om vas te klou aan wat nog oor is van ons magsposisie nie? Jesus het geen wêreldse magsposisies of erkenning gesoek nie en tog steeds invloed uitgeoefen. Ja, in Sy bereidheid tot vernedering, ongewildheid en lyding het Hy die mees radikale invloed op die mensdom moontlik gemaak.

6. Dienende luister impliseer risiko

Om soos die barmhartige Samaritaan te luister impliseer risiko; ons sal baie van ons reisplanne, tydskedules en ja, selfs veiligheid op die spel moet plaas. Die teoloog Sharon Welsh skryf so mooi oor Risiko Etiek (Ethic of Risk) wat nodig is as ons middelklasmense regtig wil erns maak met luister en dien buite ons gemaksone. Sy stel dit teenoor die Kontrole Etiek (Ethic of Control) waarvolgens ons normaalweg leef. In my gemeenskapswerk in die Moslemgemeenskap in die Strand het ek iets van dierisiko-etiek geleer. Ai, dit was vir my moeilik om my idees van sekretaresse-dagboekuurafsprake, netjies ingeryg om optimaal produktief te wees en die idee van tyd = geld te los. Want in ‘n arm gemeenskap waar mense nie vervoer en ander middele het nie en hulle uitgelewer is aan soveel veranderlikes, gebeur dinge anders. Mense daag nie betyds op vir afsprake nie. Dan daag almal weer gelyk op, en dan is daar dae wat niemand kom nie of sommer iemand anders in hul plek stuur. Dit het teen my goedgeoliede grein ingegaan, maar algaande het ek geleer om rustig te wees en myself voor te berei met my kniekombers, koffiefles en boek vir lees terwyl ek in die koue gemeenskapsaal sit. Daar het ek geleer om te wag en te kyk wat gebeur.

Die jaar toe ek met dié werk begin het, probeer ek op Kleinmond waar ons uitgebreide gesin elke jaar vakansie hou, vir hulle verduidelik van die transformasie wat ek beleef het met my migrasie van ’n kontrole-etiek as kliniese sielkundige in privaatpraktyk na ’n risiko-etiek as gemeenskapswerker. Ek kon sien dit maak nie vir die familie veel sin nie.

En toe kom Nuwejaarsdag. Kleinmond se strand op Nuwejaarsdag is vir my so lekker dat jy my ‘n vliegkaartjie na enige bestemming in die wêreld kan aanbied en ek sal kies om net daar te bly. Op Nuwejaarsdag kom die wêreld met al sy interessante mense sommer piekniek en strand hou net daar by ons. Praat van getransformeer! Die strand wat ‘n paar dekades gelede in tydskrifte as die strand van die dominees en hul honde beskryf is, sal jy nie ken nie! Ek sit daar onder my sambreel en verlustig my in die verskeidenheid. So kom ek van die strand af, stokflou en honger van al die opwinding.  Toe ek by die huis instap ruik, ek iets bekends maar tegelyk baie vreemd vir die konteks van my ouers se vakansiehuis. Daar sien ek dit: roeti, samoesas, koesisters en ander Maleier-lekkernye in my ma se kombuis!  Hier kom my pa ewe verleë en vertel van die Moslemfamilie wat kom aanklop het. Hulle het verduidelik dat die piekniekplekke oorvol is en dat hulle ‘n stukkie skaduwee soek

om piekniek te hou want hulle het oumense by hulle. Hulle sien dis lekker koel en beskut onder die balkon by die motorhuise en wonder of my pa sal omgee as hulle net vir ‘n halfuur hul twee motors daar parkeer en hul piekniekkos eet. My pa stem toe in en gaan sit ewe diplomaties op die balkon en lees, want hy weet as hy nie vir die bure en verbylopers wys dat dié piekniek met sy toestemming gebeur nie, gaan hulle die mense verjaag. Ja, daar was sowaar reeds ‘n paar mense uit die buurt wat kom klop en gevra het of hy weet van die mense wat op sy werf piekniek hou.

En toe laat val hy benoud: My kind, ek was vreeslik bekommerd, want dis ‘n groot kans wat ek gewaag het. Sê nou die mense het vreeslik geraas en heeldag daar gebly, wat het ek dan gedoen? Maar die gaste was baie rustig, het lekker geëet en ná ‘n halfuur die voordeurklokkie gelui, my pa innig bedank, ‘n bord vol eetgoed kom aanbied en weg is hulle. Dis die beliggaming van risiko-etiek!  My ma het spoedig ‘n ander realiteit uitgelig: “Ek was so bly jou pa het self die deur oopgemaak en self die mense te woord gestaan, want as dit ek was en kom vra het of hulle daar kan piekniek hou, sou Pa baie beslis geweier het.” Knik my pa sy kop, ja, hy sou, maar dit was baie moeilik om die mense in die oë te kyk en te weier. Daar is ons familie met drie vakansiehuise wat ons net een maand in die jaar benut en hier is die familie wat ‘n skaduweekolletjie vra vir 30 minute…

Op ‘n Donderdag stap die Hospice-personeel van Drakenstein by my in vir die maandelikse ondersteuning/supervisie-sessie. Dié middag is ek weereens getuie van die emosionele en fisieke effek van sg. deernisuitbranding (compassion fatique) op die liggaam. Een van die verpleegsusters praat oor die nood van spesifieke mense met vigs wat sy by name ken en in wie se oë sy moet kyk terwyl sy weet dat daar nie genoeg hulp/plek/versorging vir almal is nie. Terwyl ons daar sit, probeer ’n pastorale-terapiestudent my bel op soek na ondersteuning. Sy was uit op ‘n plaas om laerskoolseuns wat vroeër die jaar ‘n dogtermaatjie verkrag en aan die brand gesteek het, te besoek soos sy dit toe al die afgelope ses maande doen toe bendelede met ‘n rewolwer op haar voertuig afgestap gekom.

Hoe luister ons in die NG Kerk binne ‘n konteks waar ons voortdurend met sulke realiteite gekonfronteer word? Daar is mense wat my daarvan beskuldig dat ek te veel wroeg. Die Joodse skrywer Elie Wiesel het gesê: “The opposite of love is not hate, butindifference.” Ek het ernstig gesoek na wat God vandag hier deur my wil sê. Ek het geworstel met God, want om op die rande te dien is klaar swaar en ‘n mens gee baie prys in die proses, maar Goddank ek doen dit saam met mense wat ook glo dat hulle daartoe geroep is. Om in die openbaar oor dié soort luister te praat, beleef ek as blootstellend, want dis nie ‘n populêre boodskap nie en kan dalk ook mense van my vervreem. Ek was nie LUS hiervoor nie. Tog het mense, veral my ma, vir my gebid en die Here was nie doof nie.

So skryf ‘n vrou wat twee weke gelede in Windhoek ‘n werkswinkel bygewoon het vir my ‘n briefie en sê dat die Here nou al geruime tyd met haar oor Jes. 58 praat. In die manier waarop ek by die werkswinkel gepraat en gewerk het, het sy antwoorde gekry op hoeGod verwag sy die opdrag moet uitleef. Lees Jes. 58 en luister wat die Here vir jou wil sê?

Kom ons neem verantwoordelikheid en waag dit om kontekstueel na God te luister en vernuwe te raak.