Huishoudelike Geweld

Excelsus Konferensie September 2012

Teoretiese vertrekpunt

Ons werk met ‘n definisie van huishoudelike geweld wat fisiese, seksuele, sielkundige en ekonomiese mishandeling en geweld van mans teenoor vroue binne intieme verhoudings insluit.

Ons weet dat geweld teen vroue en kinders in elke sosiale klas en kulturele groep binne Suid-Afrika plaasvind.

Teorieë oor die redes vir manlike geweld

Daar bestaan verskillende kompeterende teorieë oor die redes vir manlike geweld. Hierdie teorie is nie noodwendig uitsluitend van mekaar nie. Die teorieë kan as volg opgesom word: genetiese en hormonale teorie (bestudeer chromosoom en testosteroon invloede op agressie), evolusie teorie (die jagter instink en oorlewing van die sterkste –“survival of the fittest”), sosialiseringsteorie (konstruksie van manlikheid in ons gemeenskap) en dan ook feministiese teorie van mag en beheer.

Godsdienstige interpretasies van manlike geweld

Tov godsdienstige interpretasie van manlike geweld is daar hoofsaaklik drie teenstrydige interpretasies, naamlik (1) manlike geweld is ‘n teken van die verbrokkeling van God se natuurlike hierargie van die hoofskap van die man oor vroue en kinders; (2) manlike geweld is ‘n probleem van die sondigheid van die menslike natuur; (3) manlike geweld is die gebruik van mag om manlike oorheersing oor vroue en kinders af te dwing en om ook ander vorms van onderdrukking soos rassisme, klassisme en heteroseksisme in stand te hou.

Tov (1) hierbo is daar groep wat glo dat manlike hoofskap deel is van God se natuurlike orde en dat God se hierargie beweeg vanaf mans na vroue na kinders. Hierdie tradisioneel-konserwatiewe posisie bevorder manlike oorheersing en hoop om die invloed van geweld te beperk deur mans en vroue op te voed en te leer oor “gesonde” gesinswaardes.Volgens hierdie seining kom geweld voor wanneer die natuurlike hierargie van mans oor vroue en kinders bedreig word en dus hervestig moet word. Manlike geweld word beskou as ‘n jammerlike gevolg van sekere mans se onvolwassenheid en onvermoe om hulle om hulle regmatige plek as die hoof van die huis/gesin in te neem sonder om van geweld gebruik te maak. ‘n Ander rede vir manlike geweld, volgens die konserwatiewe seining, is die feit dat die bevryding van vroue daartoe gely het dat vroue in opstand gekom het teen die leierskap en hoofskap van mans wat mans dan min keuse gee as om geweld te gebruik om hul regmatige plek van dominansie en oorheersing af te dwing.

Tov (2) is daar die tradisionele liberale posisie waar groot kommer bestaan oor die menslike natuur wat so siek en vol sonde is. Hiervolgens word geweld op vroue en kinders beskou as die ongelukkige gevolg van die feit dat mense in hul mees intieme verhoudings skade aan mekaar doen agv individuele patologie. Vanuit hierdie posisie word mans en vroue as ewe geweldadig beskou, dis net jammer dat mans fisies soveel sterker as vroue is en dus soveel ernstiger wonde kan toedien. Die eintlike probleem is individuele sonde en onvolwassenheid wat slegs aangespreek kan word deur langsame prosesse van opvoeding en terapie. Nog ‘n gevaar itv die gebruik van teorie van persoonlike patologie of verhoudingspatologie by die hantering van geweld is dat dit individue onthef van persoonlike verantwoordelikheid om iets aan die gedrag te doen. Die etiologie kry dikwels soveel aandag tydens hulpverlening dat daar min ruimte is vir verantwoordelikheid neem vir geweld en gedragsverandering.

Die feministiese standpunt (3) van manlike geweld is dat geslagsongelykheid sosiaal gekonstrueer word as ‘n hierargie en dat die meeste mans hul persoonlike identiteit daarop baseer dat hulle lede is van die dominante klas. Die doel van manlike geweld is om manlike oorheersing oor vroue en kinders af te dwing soos die geval is met ander vorms van onderdrukking, bv rassisme, klassisme en heteroseksisme. Soos vroue bewus geword het van hulself as ‘n onderdrukte klas, alhoewel hulle ook verskillende vorms van onderdrukking ervaar van mekaar afhangende van ras, ekonomiese status, seksuele orientasie, godsdiens, en nasionaliteit, het vroue beide die liberale en konserwatiewe posisies soos hierbo bespreek, verwerp. Hulle verwerp die konserwatiewe siening dat geslagsongelykheid deur God ingestel is en dat die herstel van manlike oorheersing manlike geweld sal laat afneem. Hulle verwerp ook die liberale siening dat geweld deur individuele sondigheid veroorsaak word. Geweld is nie gelyk versprei in die samelewing, soos die geval sou wees met ‘n gebroke/gevalle menslike natuur nie. Inteendeel, vroue en kinders, veral meisies, ervaar geweld ver buite proporsie met hul getalle. Slegs ‘n omvattende sosiale transformasie op alle fronte van die samelewing – van godsdiens tot die reg, opvoedkunde en ekonomie sal manlike geweld effektief kan aanspreek. Feminisme se kritiek is op patriargie. Die volgende kan is kernoortuigings binne patriagrie

  • Mans beskou en behandel vroue as objekte
  • Mans beskou vroue as besittings
  • Oortuig dat manlike oorheersing die manier is waarop die samelewing werk en behoort te werk
  • Beskou mans as vroue se meerderes

 ‘n Skadelike respons

Die konserwatief/evangeliese (1) sowel as die progressief/liberale sienings (2) van manlike geweld het al baie tragiese gevolge gehad vir vroue wat by hul kerke en dominees om hulp aangeklop het. Die klem wat kerke dikwels lê op die eenheid van die gesin, die heiligheid van die huwelik en die privaatheid van wat in die Christelike huis plaasvind, het vroue en kinders in skadelike en gevaarlike gesinssituasies laat bly terwyl hulle hulself blameer en die verantwoordelikheid vir mans se geweld op hulle geneem het. Wanneer huweliksberading gedoen word om konflikte binne huwelike aan te spreek dmv mediasie sonder om die gevaar en kwesbaarheid van kinders en vroue in die gesinne duidelik te analiseer kan beraders medepligtig word aan die instandhouding en ondersteuning van geweld deur mans.

‘n Pastorale respons tot huishoudelike geweld

Herkenning van tekens van geweld in die gesin/verhoudings

Ek meen dat dit belangrik is dat pastors en beraders vertroud raak met die praktyke en taal van mag en beheer wat op die volgende maniere kan manifesteer.

Intimidasie

  • Gebuik kyke, handelinge en gebare om haar bang te maak
  • Breek goed (smashing things)
  • Vernietig haar eiendom
  • Mishandel troeteldiere
  • Vertoon wapens

Emosionele mishandeling

  • Kraak/breek haar af – kritiek ++
  • Laat haar slef voel oor haarself
  • Noem haar name
  • Laat haar dink sy is mal
  • Speel “mind games” – smokkel me haar kop
  • Verneder haar
  • Laat haar skuldig voel

Isolasie

  • Oefen beheer uit oor wat sy doen, met wie sy kontak maak en praat, wat sy lees en waarheen sy gaan
  • Beperk haar betrokkenheid en aktiwiteite buite die huis
  • Gebruik jaloesie as verskoning om aksies te regverdig

Minimaliseer ontkenning en blaam

  • Sê die mishandeling het nie gebeur nie
  • Verskuif/verplaas die verantwoordelikheid vir die mishandeling
  • Sê sy’t dit veroorsaak

Gebruik die kinders

  • Laat haar skuldig voel oor die kinders
  • Gerbruik die kinders om boodskappe oor te dra
  • Gebruik besoeke aan die kinders om haar te teister (harass)
  • Dreig om die kinders weg te vat

Gebruik manlike bevoorregtig

  • Behandel haar soos ‘n bediende
  • Neem al die groot besluite self
  • Tree op soos die “baas van die plaas” (master of the castle)
  • Definieer self die “rolle” van mans en vroue

Ekonomiese mishandeling

  • Verhoed dat sy ‘n werk kry of behou
  • Dwing haar om te vra vir geld
  • Gee haar ‘n toelaag
  • Vat haar geld
  • Weerhou inligting oor en toegang tot gesinsinkomste

Dwang en dreigmente

  • Dreig met en voer dreigemente uit om haar seer te maak
  • Dreig om haar te verlaat, selfmoord te pleef of om haar by die welsyn te rapporteer
  • Dwing haar om klagtes by polisie te laar vaar
  • Dwing haar om onwettige dinge te doen

Huweliksberading en gesinsterapie is NIE wenslik in die gevalle van gesinsgeweld nie

In huweliksberading en gesinswerk is daar ‘n aanname dat almal in die vertrek verantwoordelikheid aanvaar vir die probleem wat bespreek word. Dis sou dus hoogs skadelik wees om voort te gaan met huweliksberading en gesinsterapie binne die konteks van geweld. Daar is ook die gevaar dat enige iets wat die vrou sê teen haar gebruik kan word en lei tot verdere geweld. Veiligheid van slagoffers is ons hoogste prioriteit in die werk met interpersoonlike geweld. Dit beteken dat aksies soos aanmelding van kriminele oortredings, planne en stappe om die vrou en kinders se veiligheid te verseker, die man moet eers volle verantwoordelikheid neem vir sy geweldadige gedrag en deelgeneem het aan ‘n rehabilitasieprogram of berading – dit moet alles in plek moet wees voordat met huweliksberading begin kan word.

Die proses van aanvaarding van verantwoordelikheid vir geweld

Ek glo egter dat mans geweldadige gedrag kan staak en op respekvolle, sensitiewe en gelykwaardige maniere kan begin handel in verhoudings indien hul gedrag binne ‘n konteks van respek, verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid aangespreek word. Die proses van aanvaarding van verantwoordelikheid sluit in:

  • Erkenning van die volle omvang van sy geweldadige gedrag;
  • Aanvaarding van persoonlike verantwoordelikheid vir die gedrag;
  • Begrip vir die potensiële impak van die geweldadige gedrag;
  • Aanvaarding vir die gevolge van die gedrag;
  • ‘n Voorneme om respekvolle maniere van optree binne verhoudings te ontwikkel.

Die beradingsverdhouding met mans wat geweldadig is

Vertroulikheid en aanspreeklikheid

  • Beperkte aanspreeklikheid

 

Mans met ‘n geskiedenis van geweldadige gedrag kan nie vertrou kan word om die aard en omvang of die risiko wat hul gedrag vir ander inhou, te beoordeel nie, want hulle het geleer om hul gedrag en die effek daarvan te minimaliseer en rasionaliseer. Die normale reëlings betreffende konfidensialiteit in die pastorale of terapeutise verhouding geld dus nie, die man moet dit van die begin af verstaan. Ons werk met beperkte konfidensialiteit. Kontak met die slagoffer en/of haar terapeut is belangrik om veiligheid te verseker. Ek kontrakteer dus met die man om sake wat nie die veiligheid van ander raak nie konfidensieel te hou, om hom op hoogte te hou van kontak met ander buite die terapie en om beskikbaar te wees vir openlike gesprek met my oor die vrese wat hy mag hê tov my verbintenis tot sy welstand en veiligheid.

  • Samewerking met ander instansies en professionele persone

Een van die mees gevaarlike dinge wat ‘n berader kan doen is om in isolasie met simptome van geweld te werk. Dit versterk en perpetueer die strukture van geheimhouding en misleiding wat geweld voed. Ons het ‘n wetlike en sosiale verantwoordelikheid teenoor die groter samelewing om geweld te rapporteer. Die ideaal is om saam met ander organisasies wat vanuit ‘n menswaardigheidsoogpunt werk, die werk met oortreeders en hul gesinne te doen.

  • Aanspreeklikheid teenoor die vrou

 

Tov die vordering in terapie is ons aanspreeklikheid teenoor die maat wat saam met die klient leef. Sy kan ook gebruik word om in te kom na sessies en in die teenwoordigheid van kan die berader met haar ‘n onderhoud voer oor haar ervaring van die effek van sy geweldadige gedrag. NB – optimale vordering word verkry waar die werk met die man in die teenwoordigheid van sy vrou gedoen word- veiligheid mag hier ‘n groot faktor wees!

  • Respek vir self en ander is aangetas

Respek van die pastor/berader is krities belangrik, want intervensies wat enige van die partye nie met respek behandel nie dra by tot die instandhouding van of kan selfs die geweld vererger. In ons werk met mans wat geweldadig is, is beide die respek vir self en respek vir ander aangetas. Die versterking van beide self-respek (maw respek vir jou eie integriteit) en respek vir ander is belangrike doelwitte in effektiewe intervensies. Dikwels maak die ervaring van ‘n respekvolle verhouding met die pastor of berader ‘n betekenisvolle bydrae tot die groei van self-respek by mans wat geweldadig is.

  • Posisie van respekvolle konfrontasie

 

Om as berader ‘n posisie van respekvolle konfrontasie te behou, is MOEILIK! Dit verg van ons ‘n konstante self-ondersoek, hersiening van ons eie posisie en selfs ontlonting “debriefing” met kollegas. Dit is veral die stories van die effek van mishandeling op die slagoffers en die meegaande minimalisering, onsensitiwiteit, ontkenning, vermyding en blaam van die man wat mishandel wat my geweldig kwaad maak en ontstel. Dan luister ek weer na die stories van die geweld, ontbering, pyn, skaamte en verlies van die man en moet ek myself herinner dat dit nie kan dien as verskonings vir sy geweld nie. Ek moet respekvol hierna luister en terselfdertyd respekvolle uitnodigings aan die man bly rig om verantwoordelikheid te neem vir sy geweldadige gedrag.

  • “Inner tyrant”

 

Soms word ek gekonfronteer met my eie geneigdheid tot selftevredenheid en mishandeling – hoe maklik word ek nie uitgenooi om ‘n “ons en hulle” posisie in te neem waar ek ook met disrespek en afbrekende gedrag en woorde te voorskyn kom! Ons kan dit selfs regverdig deur te argumenteer dat my tiranie ‘n edele doel dien! Alan Jenkins praat van die “inner tyrant” wat uitkom en jy begin voel jy wil net “rede in sy kop inklap”. Die “inner tyrant” kom dikwels te voorskyn as ‘n belewenis van frustrasie en ongeduld – hoe kan ek die man laat sien wat hy doen? Dan wil ek met hom begin redeneer en soms beledig ek hom. Die “inner tyrant” opereer vanuit ‘n posisie van morele meerderwaardigheid – ek is reg en hy is verkeerd. Ek mag dus vanuit hierdie posisie my verkleinerende, blamerende en veroordelende gedrag regverdig.  Ek is egter daarvan oortuig dat ek nie ‘n persoon kan help om geweld te los deur myself aan praktyke van geweld skuldig te maak nie. Ek kan hom nie leer om iemand anders se grense te respekteer deur syne te oortree nie! Respekvolle terapie impliseer die klop aan deure en die wag om ingenooi te word, nie die afbreek van deure en instorm en verwag om met ope arms verwelkom te word nie.

  • Self-refleksie en supervisie

 

  • Magspolitiek binne pastorale verhouding

 

Dis baie belangrik om die magspolitiek wat deel vorm van die praktyk van pastorale hulp of berading goed in berekening te bring. Daar is ‘n magshierargie wat inherent is aan die berader/kliënt verhouding en waar daar ook al ‘n magswanbalans bestaan, bestaan daar die gevaar van magsmisbruik. Dit bly die verantwoordelikheid van die persoon met meer mag om haar magsposisie ter erken en die verhouding met die klient te monitor itv moontlike skadelike gedrag. Die mate van vertroue wat ons kliente in ons plaas, veral in die geval van geweld, plaas hulle in ‘n geweldige kwesbare posisie teenoor ons posisie van meerdere kennis, vaardigheid, status en invloed.

Die Beradingsproses met mans wat geweldadig is

  • Onderskei tussen die geweldadige gedrag en sy intensies

 

Tref ‘n onderskeid tussen die man se afbrekende gedrag en sy intensies of bedoelings, die meeste mans wil graag in gelyke en respekvolle verhoudings wees ten spyte van hul afbrekende gedrag;

  • Nooi hom uit om die idees en aannames wat hom verhinder om respekvol op te tree te bevraagteken.

 

Mans wat hulself tot geweld wend, word nie deur patologie of afwyking beperk nie, maar word beperk deur hul interpretasie van populêre en dominante aannames of maniere van die wêreld beskou en interpreteer. Indien mans uitgenooi word om hierdie onwelkome (unhelpful) idees en aannames te identifiseer en bevraagteken, kan hulle gehelp word om hul perspektiewe te verbreed en meer respekvolle keuses uit te oefen.

  • Nooi hom uit om nuwe idees van geregtigheid en gelykheid te oorweeg

 

Die klient word uitgenooi om nuwe idees van geregtigheid en gelykheid te oorweeg en te begin praktiseer en om ou, populere, maar onregverdige en ongeregtige ideologie te bevraagteken en agter te laat.

Praktyke van gelykheid kan aan die volgende gemeet word

Nie-bedreigende gedrag

  • Maniere van praat en optree wat haar veiling en gemalik laat voel om haarself uit te druk in woorde en aksies

Respek

  • Nie-beoordelende luister na haar
  • Wees emosioneel bevestigend en vol begrip
  • Heg waarde aan haar mening

Vertrou en ondersteun

  • Ondersteun haar doelwitte/drome
  • Respekteer haar reg tot haar eie gevoelens, vriende, aktiwiteite en menings

Eerlikheid en Verantwoorbaarheid

  • Aanvaar verantwoordelikheid vir jouself
  • Erken die gebruik van geweld in die verlede
  • Erken wanneer jy foute maak of verkeerd is
  • Kommunikeer openlik en eerlik

Verantwoordelike ouerskap

  • Deel ouerskapsverantwoordelikhede
  • Wees ‘n positiewe, nie-geweldadige rolmodel vir die kinders

Gedeelde verantwoordelikheid

  • Kom saam ooreen op ‘n regverdige verdeling van take
  • Gesamentlike besluitneming oor gesinsaangeleenthede

Ekonomiese vennootskap

  • Neem saam besluite oor geldsake
  • Verseker dat beide partye voordeel trek uit finansiële reëlings

Onderhandeling en regverdigheid

  • Streef na oplossings vir konflik wat beide partye tevrede stel
  • Aanvaar verandering
  • Wees bereid tot kompromië

 

  •  Help die oortreder om gepaste taal vir sy geweld te vind

 

Taal is belangrik en ons probeer om die regte taal te vind om geweld en onreg te benoem.(oortreders sal dikwels die geweld en onreg in sagter taal stel – bv ek het haar getik en weggestoot – ipv geklap en teen die deur gegooi).

  • Fokus op geweldadige gedrag

 

Ons hou dus ons fokus op die geweldadige gedrag eerder as gepreokkupeer te wees met verduidelikings, verskonings en regverdigings. Dit help as ons eers ‘n mate van verantwoordelikheid aanvaar kry van die man, hom daarvoor kan erkenning gee en dan daarop voort te bou deur oor ander areas uit te vra.

  • Bring blinde kolle aan die lig

 

Konfrontasie in die konteks van respek en nadat daar reeds ‘n sterk verhouding van respek gevestig is, kan die klient baie help wanneer ons blindekolle aan die lig bring.

Beraders kan mans help om te verstaan watter praktyke ondermyn verantwoordelikheid en watter ondersteun dit:

Ondermynend van Verantwoordelikheid

  1. Selfregverdiging
  2. Verdediging
  3. Idees van geregtig wees op/of aanspraak (entitlement)
  4. Manlike trots/ego
  5. Self-gesentreerdheid
  6. Ontkenning/minimalisering
  7. Perfeksionsisme
  8. Praktyke van vergeetagtigheid
  9. Praktyke van blaam/beskuldiging
  10. Selfbejammering
  11. Selfvoldaanheid
  12. Sarkasme/sinisme
  13. Ongeduld

Ondersteunend van verantwoordelikheid

  1. Volwassenheid
  2. Versigtigheid en selfrefleksie
  3. Goedhartigheid & liefdevolheid (kindness)
  4. Luister
  5. Waarde heg aan ander (valuing others)
  6. Verdraagsaamheid
  7. Geduld
  8. Openheid
  9. Versorging
  10. Dapperheid
  11. Toewyding (zeal)
  12. Aanvaarding
  13. Begrip
  14. Ekstra moeite

 

  • Verantwoordelikheid bring groei in empatie

 

Die man wat verantwoordelikheid aanvaar vir sy geweld word algaande meer en meer bewus van die skade wat hy veroorsaak het aan diegene wat hy liefhet en ervaar dan kragtige emosies van skaamte, hartseer en vrees. Dit kan bydra tot heling en versterking waar die man op nuwe maniere sy eie krag, moed en integriteit ontdek deur die pynlike realiteite te konfronteer. Hy mag ook empatie ontwikkel vir die wat hy seergemaak het en sodoende verby sy eie self-gesentreerde preokupasies groei en sodoende ‘n groter kapasiteit ontwikkel vir gelykheid en respek in verhoudings.

Belydenis, berou, heiligmaking en restitusie

Ongelukkig misbruik baie oortreders godsdiens om te manipuleer en beheer. (Voorbeeld van man wat kom sê hy het nou nie meer hulp nodig nie, want die Here het hom vergewe.)

Belydenis beteken algehele eerlikheid en openlikheid oor die veelvuldige oortredings, die gevolge vir ander asook die houdings en oortuigings wat onderliggend is aan die skade wat aan ander gedoen is. Dit beteken ‘n einde aan geheimhouding, misleiding, leuens, rasionalisering, minimalisering, en die vermyding van die gevolge van mens se dade. Dit kan ‘n groot onderneming wees om belydenis te doen as mens ‘n leeftyd van geweld agter jou het!

Berou beteken jy draai jou lewe om en begin beweeg in ‘n nuwe rigting. Dit beteken die ontworteling van die ou gedragspatrone en die soeke na nuwe waardes, oortuigings, gedrag en verhoudings.

Heiligmaking beteken die nuwe praktyke word deel van jou lewe – dit neem dikwels jare voordat die ou self dood is en die nuwe een gebore en betroubaar is.

Restitusie beteken die daarstel van bronne vir die slagoffers aan wie leed gedoen is. Slegs die slagoffer kan besluit wanneer sy gereed is om ‘n verhouding met die oortreder te hervat. Dit kan nie gekoop word nie!

Slot

I dream of a time when male violence against women and children becomes a part of the church’s theology of sin and evil. What would it look like? It would be a theology that refused to ignore the danger of tyrannical power in interpersonal relationships, whether enforced by physical strength, sexual abuse, male dominance, or threat of violence. It would be a theology that was realistic about the spiritual dangers to one’s soul of abusive power over those who are vulnerable. It would be a theology that squarly faced the evils of gender inequality, forced sexual abuse, male power and control, and exemption from accountability and consequences. Such a new theology of evil would acknowledge that the church perpetuates these dangers when it idolizes the family, when it idealizes parental authority, when it accedes to the male dominance of our culture, and when it contributes to the confusion of sexuality and power. I believe that facing the evil of male violence within the church requires a reinterpretation of much of the church’s theology. The only way a massive evil such as this could be overlooked is by the church allowing the evil of male dominance to cloud its vision of the gospel, thus overlooking the presence of violent interpersonal relationships among Christians. James Newton Poling (1997:161)

Bronne:

Poling, JN 1997. Male violence against women and children in Neuger, CC & Poling JN (ed) The Care of Men (138-162) Abington Press, Nashville.

Jenkins, A 1996. Moving towards respect: A quest for balance in McLean, C, Carey, M & White, C (ed) Men’s ways of being (117-133) Westview Press, Colorado.

Ekstra leeswerk:

Jenkins, A 1990. Invitations to responsibility. The therapeutic engagement of men who are violent and abusive. Adelaide: Dulwich Centre Publications:

Neuger, CC & Poling JN (eds) 1997. The Care of Men. Nashville: Abingdon Press.

Poling, J 1991. The Abuse of Power. A Theological Problem.  Nashville: Abingdon Press.

Neuger, CC 2001. Counseling Women. A Narrative Pastoral Approach. Minneapolis: Fortress Press.