Taal en die bevordering van geslagsgelykheid en menswaardigheid
Moderamenvergadering NG Wes-Kaapland
Mei 2014
Elize Morkel
Language is very powerful. Language does not just describe reality; language creates the reality it describes.
Desmond Tutu[1]
In haar essay oor gender en menswaardigheid in die lig van die Belydenis van Belhar verduidelik Prof Julie Claassens[2] dat alhoewel die Belydenis van Belhar nie primer na gender verwys nie, dit duidelik spreek in ‘n situasie van onreg en ontmensliking waar mense se waardigheid tydens die apartheidsjare op grond van hul velkleur geskend is. In die gees van Belhar word die kerk dus aangemoedig om op te tree in situasies waar vroue se menswaardigheid aangetas word. Sy wys op Gen 1:26-27 waar God uitgebeeld word as die God wat man en vrou in God se beeld geskape het – “‘n diepgaande teologiese perspektief wat dui op die inherente waarde van alle mense desniesteenstande hulle ras, geslag, sosio-ekonomiese stand of seksuele orientasie.” Vervolgens beklemtoon die Belydenis van Belhar dat God sigself vereenselwig met mense wat ly as gevolg van onreg. Christus se lewe en leer versinnebeeld hierdie herstel van vroue se waardigheid as ons let op die talle verhale waarin vroue teen die samelewing se verwagting in met respek behandel word.
Claassens belig die feit dat die Belydenis van Belhar ten diepste berus op die oortuiging dat God eenheid bring tussen mense. Sy verwys na die klassieke doopformulier in Galasiërs 3:28, een van die tekste wat in artikel 3 genoem word, wat daarop dui dat verskille gebaseer op ras, klas, en ook gender in Christus opgehef word. Volgens haar word die kerk geroep om God in hierdie versoeningstaak na te volg (artikel 4) en om dit wat skeiding bring tussen mans en vroue af te breek.
Bewus en Bemagtig
Met die aanbreek van ons land se nuwe demokrasie, die getuienisse voor die Waarheids-en Versoeningskommissie en toenemende kontak met kollegas uit bruin en swart gemeenskappe het die bewuswording van die omvang en effek van die trauma en onreg van apartheid my liggaamlik en psigies in so ’n mate affekteer dat ek vir twee jaar nie kon werk nie. Dit was veral my eie posisie as wit Afrikanervrou en lidmaat van die NGK wat vir die eerste 37 jaar van my lewe grootliks onbewus en bevoordeel geleef het binne die apartheidsbestel terwyl my mense en my kerk hierdie bose sisteem regverdig en ondersteun het, wat my met afgryse vervul het. Die vraag wat by my gespook het, was: Hoe is dit moontlik dat ek/ons so blind kon wees? Daarmee saam die versugting: Hoe kan ek/ons dit regmaak?
In hierdie tyd het die werk van Kaethe Weingarten[3], ’n Amerikaanse sielkundige, wat die impak van getuienis wees van trauma op mense bestudeer my baie gehelp. Sy het ’n tipologie ontwikkel wat vier getuienisposisies voorstel na aanleiding van die mate waarin mense bewus is van dit waarvan hulle getuienis is en die mate waarop mense dan bemagtig daarop reageer. Sy verduidelik dat mense kan rondbeweeg in verskillende getuienisposisies na mate hul bewussyn van onreg en geweld wissel en hulle in mindere en meerdere mate bemagtig daarop reageer.
Weingarten verduidelik hoe ons meer bewus kan word van wat ons beleef in ons verhouding tot ander in kontekste van geweld en onderdrukking:
All of us, whichever role (victim, perpetrator, witness) we are currently in, can witness ourselves. We can become aware of what we see – witnessing ourselves as witnesses. We can become aware of what has happened to us – witnessing ourselves as victims. We can become aware of what we do to others – witnessing ourselves as perpetrators. More able to witness ourselves in each of these roles, we will be better able to witness others in each of these roles as well. (Weingarten 2003:26)
Die Effek van die verskillende getuienisposisies
Posisie 1: Dit verteenwoordig ’n posisie waar mens ’n bewuste en bemagtige getuienis is van geweld en onreg. In hierdie posisie is dit vir ’n mens moontlik om met helderheid effektiewe aksie te neem. ’n Mens sal geneig wees om in hierdie posisie effektief, bemagtig en hoopvol te voel.
Posisie 2: Hierdie mag die mees gevaarlike posisie wees vir ander. Mense wat geweld en onreg waarneem, maar onbewus is van wat hulle waarneem en tog reageer asof hulle weet wat hulle doen, kan oneffektief of selfs skadelik optree. Die negatiewe effek van hierdie posisie kan verrykende gevolge hê, veral as die persoon vanuit ’n magsposisie reageer.
Posisie 3: Hierdie posisie is uiters ongemaklik omdat die persoon bewus is, maar nie weet wat om te doen of hoe om op te tree nie. Dis dikwels ’n posisie waar mens regtig oorweldig en selfs desperaat mag voel. Vanuit hierdie posisie word mens se energie, inisiatief, entosiasme en selfs bereidheid tot aksie dikwels ernstig geimpakteer.
Posisie 4: Wanneer ’n persoon onbewus en onmagtig is, is die effek op die self en op ander baie sleg. Die kanse is dan baie goed dat die persoon nie sal optree wanneer optrede geverg word nie en passief sal bly wanneer aksie baie belangrik is. ’n Slagoffer mentaliteit asook ’n hopeloosheid kan deel word van so ’n persoon se lewe. Indien aksie wel geneem word, is dit dan ook dikwels oneffektief of skadelik.
Ons beweeg altyd tussen hierdie posisies soos wat ons leef en nuwe kontekste en verhoudings beleef. Ons het altyd die keuse om op te beweeg na ’n posisie van groter Bewussyn en Bemagtiging. Soos wat mense se bewussyn groei, kan hulle oorweldig, skuldig en getraumatiseer voel en dalk verkeerdelik dink dat hulle van Bewus na Onbewus kan beweeg – daar waar hulle net afgestomp en gevoelloos kan wees, maar dit bring nie werklik verligting nie. Ons moet leer hoe om “op” te beweeg na Posisie 1 waar groter Bewus–wees ook met groter Bemagtiging gepaard gaan.
Hierdie gesprek oor taal wat menswaardigheid en geslagsgelykheid bevorder het presies dit ten doel: om mee te help om groter bewussyn te skep van geslagsongelykheid en praktyke wat menswaardigheid skend en voorstelle te maak wat bemagtig om skadelike praktyke te ondermyn en menswaardige praktyke te versterk.
Die rol van taal in identiteitsvorming en magsverhoudings[4]
Taal is, tesame met ander voorstellings soos visuele materiaal, ‘n magtige medium waardeur betekenis in ‘n gegewe kultuur en konteks gekonstrueer word. Die manier waarop ons dink oor gender word nie bloot maar weerspieël in ons taal en voorstellings nie, maar word ook inderdaad gekonstrueer deur ons taal en voorstellings. Identiteite word ook geposisioneer in verhouding tot die diskoerse van die samelewing rondom ons. Diskoerse verteenwoordig oortuigings wat in ‘n samelewing leef wat oor tyd so vas en algemeen aanvaar word dat dit waarheidstatus verkry en dus nie bevraagteken word nie. Dit word as normaal aanvaar.
Konstruksies oor wat dit beteken om ‘n man en ‘n vrou te wees binne ‘n gegewe kultuur bied aan mans en vroue die voorskrifte (“scripts”) vir die korrekte uitleef (“performance”) van hul gender rolle. Individue pas dus hul lewens aan – selfs op ‘n onbewuste vlak – om volgens hierdie voorskrifte te leef. Die voorskrifte is dikwels geidealiseerd en daar ontstaan ‘n spanning tussen die eise van onbereikbare ideale wat voorgeskryf word en die realiteite van mense se deurleefde ervarings. So is die mite van die manlike broodwinner wat so ‘n gewilde konstruk in die hoofstroom media is nou verwant aan die Christelike idee van manlike hoofskap wat deur baie kerke ondersteun word terwyl die meeste middelklasgesinne vandag van twee inkomstes afhanklik is.
Die volgende aanhaling van Sandra Lipsitz Benn (in Koenig-Visagie 2012: 165) verduidelik twee oorheersende oortuigtings tov gender konstrukte naamlik biologiese determinisme en essensialisme:
Throughout the history of Western culture, three beliefs about women and men have prevailed: that they have fundamentally different psychological and sexual natures, that men are inherently the dominant or superior sex, and that both male-female difference and male dominance are natural.
Volgens biologiese determinisme word gender (‘n kulturele konstrukt) deur geslag (‘n biologiese gegewe) gedetermineer. Biologiese determinisme versterk dus ‘n kulturele diskoers dat, op grond van die intrinsieke biologiese verskille tussen die geslagte, daar ook essensiele verskille tussen mans en vroue bestaan wie se gender-identiteit dan volgens essensieel manlik en essensieel vroulike voorskrifte gekonstrueer word. Die idee van die “teenoorgestelde geslagte” waarvolgens gender in twee teenoorgestelde pole as vroulik/vrou en manlik/man opgestel word, lei tot ‘n lys van eienskappe wat hierdie twee verskillende pole voorstel en waarvolgens mans en vroue dan hul rolle vind en uitleef.
Biologiese determinisme en essensialisme is ‘n diskoers wat prominent na vore kom in Christelike oortuigings en leestellings, veral die wat gebaseer is op ‘n letterlike interpretasie van die Bybel. Die oortuiging dat geslagsverskille asook die man se hoofskap oor die vrou deel vorm van God se skeppingsplan en deur God so ingestel is, word versterk deur Paulus se geskrifte wat dikwels aangehaal word om hierdie idees te motiveer. Manlike hoofskap word verder versterk deur die voorstellings van God as manlik en die feit van Jesus se manlikheid. Die asosiasie van manlikheid met opper-gesag versterk dus die lering omtrent manlike hoofskap.
Navorsers wys daarop dat die binêre kategorië waarvolgens manlikheid en vroulikheid gekonstrueer word ook in terme van die magsbalans tussen die geslagte ‘n rol speel. Aangesien vroue as gevolg van hul fisiologie en voortplantingsfunksies gesien word as nader aan die natuur (en mans nader aan kultuur), word vroue dikwels beheer en objektiveer asook as minderwaardig en ondergeskik hanteer soos die geval is met die hantering van die natuur. Die manlik/vroulik dualiteite is nie neutraal in die konsekwensies vir die geslagte nie. Dit stereotipeer beide geslagte, beperk hulle in die uitlewing van hul Godgewe potensiaal en gee aanleiding tot magsmisbruik wat mense se menswaardigheid aantas.
Bemagtigde response: Taal wat menswaardigheid ondersteun
Denise Ackermann[5] (1993:27) wys op drie diskoerse en praktyke wat ondermyn behoort te word om die diskriminasie teen en onderdrukking van vroue teen te werk. Dit kan as merkers gebruik word by die beoordeling van taalpraktyke wat menswaardigheid aantas. Dit is: Mansgesentreerdheid (“androcentrism”), dualistiese denkpatrone en patriargale, hierargiese strukture.
Man as norm (androcentrism)
Wanneer mans voorgestel word as die norm is vroue noodwendig die “ander”, die buitestaander wat nie gelyke status het alvorens sy ook as een van die manne ingesluit word nie. Hierdie man-as-norm tipe denke word gereflekteer in die optrede van ‘n broer wat in ‘n kerkvergadering waar die mans verreweg in die meerderheid is, die vergadering as “broers” aanspreek. Toe hy later besef dat daar susters teenwoordig is, bied hy die volgende korrektief aan: “Vir my is die vroue al so deel van die kerkvergaderings dat ek hulle as manne beskou.”
Die gebruik van manlike voornaamwoorde om na mans en vroue te verwys, laat vroue heeltemal verdwyn uit die konteksuele landskap. In ons gebruik van voornaamwoorde word die manlike hy, hom en sy dikwels gebruik om almal in te sluit. Instede daarvan kan ons meervoudige voornaamwoorde gebruik soos hulle, hul en ons. Ons kan ook manlik/vroulik (sy/haar) in tandem gebruik.
Dieselfde geld vir generiese selfstandige naamwoorde, werkwoorde en byvoeglike naamwoorde wat so algemeen in ons taal (Engels en Afrikaans) voorkom. Byvoorbeeld mankind (humanity), man-made (handcrafted), chairman (chairperson) – dink ook aan mannekrag, beman, posman en brandweerman. Nog voorbeelde is die gebruik van “you guys” en “ouens” om na vroue en mans te verwys. Ek het myself onlangs uitgevang dat ek ‘n vriendin op Facebook aanprys met : “Mooi man!” en moes dit gou verander na “Mooi so!”.
Daar is ook taalpraktyke wat na vroue verwys in terme van hul verhoudings met mans, bv Mev Ds Pieterse en posstukke wat geadresseer word aan Mev Johan Pienaar. Hier word vroue hanteer asof hulle nie ‘n identiteit of subjektiwiteit as individue het nie.
Dualisme of stereotipering
Ons taal reflekteer dikwels ons inkoop in die dualismes rondom gender. Van die mees prominente van die dualismes is die aktief/passief pole waarvolgens manlikheid gekonstrueer word deur aksie en vroulikheid deur passiwiteit, voorkoms en as objek. Nog ‘n belangrike dualisme is die verdeling tussen publieke en private sfere met mans wat gekonstrueer word binne die publieke sfeer van betaalde werk en politiek terwyl vroue in die private sfeer van die huishouding tuishoort.
Hiervolgens word vroue dikwels in terme van tradisionele stereotipe gesinsrolle of dmv hul fisiese eienskappe beskryf waar dit nie in dieselfde konteks met die beskrywing van mans gedoen sal word nie – byvoorbeeld as eggenoot, ma en blondine. Hierdeur word algemene en onbelangrike eienskappe voorop gestel terwyl relevante en toepaslike eienskappe geignoreer of tweede gestel word en vroue sodoende verkleineer (trivialized). Dit gebeur ook wanneer vroue as passiewe objekte eerder as aktiewe subjekte voorgestel word byvoorbeeld die donkerkop, die slimmetjie, die kwaaitjie, die vriendelike enetjie.
Soortgelyke voorbeelde:
Die kandidate vir die verkiesing is Jake Steyn, ‘n prokureur en Mev. Susan Groenewoud, onderwyseres en ma van drie. (die titel Mev en die “ma van drie” is irrelevant)
Op ‘n brosjure: Wanneer die verpleegkunde student haar studies voltooi, moet sy ook ‘n raadseksamen aflê. (nie alle verpleegkundiges is vroue nie)
Julie Claassens wys daarop dat ook mans ly onder die stereotipes wat die samelewing en media aan hulle toedig. So kan ’n mens terreg praat van ’n krisis in manlikheid soos mans worstel met die idee van ’n macho man wat geweldadig is en nie sy emosies wys nie.
Soms openbaar mense houdings wat vroue en mans in stereotipiese rolle sien, maar hulle bedoel dit goed of selfs as ‘n kompliment. Die oorsprong hiervan is ‘n idealisering van tradisionele geslagrolle soos die volgende aannames: vroue is van “nature” meer goedhartig, emosioneel, en deernisvol, mans daarteenoor is van “nature” meer rasioneel, minder emosioneel en gehard/sterker (“tougher”) emosioneel en fisies. Dink maar aan aannames soos dat vroue van nature beter administratiewe assistente is of van nature bereid en geskik is om geskenke vir die baas aan te koop, want hulle is “beter” daarmee.
Verdere voorbeelde:
‘n Man wat kru taal gebruik, maak verskoning omdat daar ‘n vrou in die geselskap is. Die implikasie is dat vroue in ‘n ander klas as mans is, te delikaat om sekere taal of grappe aan te hoor. Dit is paternalisties en neerhalend teenoor vroue (patronizing and condescending). Mans word hier ook benadeel omdat die aanname is dat alle mans sulke grappe en taal goedkeur of geniet. Dis mos manne-taal of hoe manne se koppe werk!
Wanneer daar ‘n indringer op die eiendom gewaar word, word ‘n man geroep om met hom te gaan afreken. Die aanname is dat net omdat hy groter en sterker is, is ‘n man noodwendig toegerus om gevaarlike situasies te hanteer.
Patriargale of hierargiese denke
Soms word vroue beskryf op maniere wat ondergeskikte posisies impliseer asof hulle afhanklik is van of minder gelyk is aan hul manlike eweknieë. Wanneer ons byvoorbeeld ‘n voornaamwoord soos vroue/vroulike voor ‘n beroepsbeskywing of professionele titel sit soos bv vroue loods, vroue bankier, vroue dokter, vroue predikant. Die indruk word geskep dat vroue hier uit hul plek is, eiendaardig is, nie die norm nie en alhoewel hul verdra word, is hul nie gelyk nie. Netso kan vroulike agtervoegsels bydra tot die vermindering van die waarde, bydraes en toewyding van vroue in beroepe, professies en aktiwiteite wat primer deur mans oorheers word, bv aktrise, eksekutrise (akteur en eksekuteur is verkieslik om na beide geslagte te verwys).
Dis verkieslik om woorde soos “man/vrou”, “meisie/seun” en “heer/dame” in ‘n paralelle en op gelyke wyse te gebruik. Om na volwasse vroue as “girls” of “meisies” te verwys in ‘n konteks waar volwasse mans beskryf word as “manne” of “mans” is ontoepaslik. Ons praat ook verkieslik van kantoorpersoneel eerder as kantoormeisies – dink maar aan die vernederende gebruik van: “Ek sal my meisie vra om jou terug te bel” ipv “Ek sal vra dat my persoonlike assistent jou bel”. Ons gebruik “vroue” in plaas van “dames” behalwe as ons van “here” op paralelle wyse praat. Vermy troetelname soos “skattie”, “hartlam” ens met vroue wat onbekend is of in situasies waar hierdie tipe intimiteit nie toepaslik is nie.
Titels en aanspreekvorme behoort konsekwent en in paralelle formaat vir mans en vroue gebruik te word. Bv Teenwoordig was: Pieter Roux, Johan du Toit en Mev Hanna Steyn behoort of Ds Pieter Roux, Ds Johan du Toit en Mev Hanna Steyn te wees of Pieter Roux, Johan du Toit en Hanna Steyn. Getroude pare behoort nie aangedui te word as: Mnr en Mev Jannie Fourie nie, maar as: Mnr Jannie en Mev Riette Fourie of bloot Jannie en Riette Fourie.
Wanneer voorbeelde, visuele materiaal en illustrasies gebruik word, moet daar verseker word dat beide mans en vroue verteenwoordig word en in ‘n verskeidenheid van rolle voorgestel word.
Mans word gewoonlik eerste genoem in uitdrukkings soos mans en vroue, syne en hare, hy en sy, Meneer en Mevrou ens. Probeer om hierdie woordorde om te ruil en afwisselend te gebruik ten einde gelykheid en gelykwaardigheid te reflekteer.
In die onderstaande gedig word die onderlinge verband tussen gender, klas en ras baie goed uitgelig in Kleinman se protes teen die gebruik van die term “lady” of “dame”.
Why I’m Not a Lady (and No Woman Is)
by Sherryl Kleinman
Published in Feminist Frontiers, edited by Laurel Richardson, Verta Taylor, and Nancy Whittier. 2004. McGraw-Hill, p. 94.[6]
Ladies have pale skin, wear white gloves they sweep across the top of the armoire to make sure the darker-skinned woman who cleaned it didn’t forget or cheat.
A lady doesn’t sit with one leg dangling over the arm of the chair like she just doesn’t give a damn.
Ladies don’t fix cars, build bridges, wire houses. Ladies become First Lady, not President.
Sit up straight, young lady! Cross your legs (shave them first), Remove (surgically if necessary) that frown from your forehead. Lower your voice. Smile.
(If anyone asks why you snuck down to the Ladies Room, say you had to powder your nose.)
Call yourself a lady and he’ll protect you, he’ll respect you, he won’t leave.
But who protects the cleaning lady?
Wonder why we don’t have “Ladies Studies” at the university?
I’ll remain a woman, keep the basic word that got so dirty she wants to clean herself off and be called lady.
Until a real woman can earn one dollar on the man’s dollar; Until a real woman can call her body her own; Until a real woman can love a woman in peace, love a man without fear; Until a real woman can walk the dark streets with her mind on the stars and not on her back,
I will know that lady is a lie.
Inklusiewe taal in die Kerk
Claassens wys daaop dat die Bybel ’n groot rol speel om die patriargale sisteem intakt te hou, en dat dit noodsaaklik is om kritiese leesvaardighede aan te leer waar tekste wat die potensiaal het om vroue se menswaardigheid te skend uitgedaag word, maar waar die teks ook as ‘n bevrydende woord van God aangebied word. Volgens haar sluit dit ondermeer strategieë in om byvoorbeeld die stories van vroue in die Bybel se ervaring van lyding en oorlewing wat baie keer misgekyk word uit te lig wat ’n belangrike bydrae lewer om vroue se menswaardigheid te herstel.
In twee berigte[7] deur Neels Jackson rapporteer hy oor gender-sensitiewe taalgebruik binne die konteks van Christelike lektuur en liturgie. In 2002 maak Prof Christina Landman beswaar dat baie van die liedere in die Liedboek taal bevat wat uitsluitend en seksisties is. Sy noem twee kategorië van besware. Eerstens wys sy daarop dat daar in nie-geslagtelike terme oor God gepraat behoort te word, want God het nie geslag nie. Dit doen ‘n mens deur die voornaamwoorde “Hy” en “Hom” telkens deur “God” te vervang. Die ander probleem gaan oor die verwysing na gelowiges. Waar daar “hy” staan sou dit met “hul” vervang kan word om die teks inklusief te maak. Prof Landman gee toe dat dit ‘n groot omwenteling in liturgiese taal sal verg om heeltemal inklusief te word. Kyk ‘n mens na die formulerings oor die Drie-Eenheid, sou jy pleks van na die “Vader, Seun en Heilige Gees” te verwys, kon praat van “God, die Kind en Heilige Gees”. Jesus was manlik, maar dis nie sy manlikheid wat ons verlos nie, wel sy goddelikheid. Dan sou jy by die punt kom dat jy die belydenisskrifte moet herformuleer.
In 2013 berig Neels Jackson dat Prof Landman by die toekenning van die Andrew Murrayprys aan Prof Ernst Conradie daarop gewys het dat Prof Conradie ‘n hele boek oor God se handelinge in die wereld geskryf het sonder om een keer na God te verwys as die manlike “Hy” of “Hom”. Pleks van die voornaamwoorde te gebruik, het Prof Conradie die woord “God” telkens herhaal.
By navrae het Prof Conradie verduidelik dat hy dit so gedoen het omdat hy sensitief is vir inklusiewe taal. Die belang van taalgebruik wat God nie as eksklusief manlike voorhou nie is deur Proff Conradie en Landman aan die hand van ‘n aanhaling uit feministiese teologie verduidelik. Dit lui: “As God ’n man is, dan is die man god.” Volgens hierdie argument kan ‘n beskouing van God as manlik daartoe lei dat mans vir hulself ’n verhewe posisie toe-eien en dat hulle vroue dan verdruk en verneder, soms selfs mishandel.
Prof Conradie wys daarop dat God in die Bybel nie as net manlik voorgehou nie word nie. Daar is naas beskrywings van God as Vader ook onsydige beskrywings van God as anker of rots en vroulike beelde van God, soos die van ‘n hen wat haar kuikens beskerm. Prof Landman het gesê sy het al voorgestel dat na die Drie-eenheid verwys word nie as die Vader, Seun en Heilige Gees nie, maar as die Versorger, Verlosser en Heilige Gees.
Ten slotte
Teoloë Chopp and Taylor[8] (1994:36–37) beskryf hoe taal die lewens en gesondheid van vroue impakteer. Volgens hulle is godsdienstige instellings verantwoordelik vir die beskerming van waardes binne die samelewing en as sodanig is hierdie instellings, soos kerke, die primêre beskermers van die patriargale kultuur en waardesisteem.
Social structures create individual ills. And social structures are linguistic – they are created, sustained, and mediated through language. Oppression, then, is not simply a physical reality but a psychic reality, for one’s perceptions of self and world are formed linguistically, and the language is received from the social reality within which one is embedded. When this language makes the male gender systemically normative, then women as the other gender are precisely that: other, outsiders, marginalized. In addition, insofar as the language pervades the culture, all of the institutions within that culture will reflect and perpetuate the normative and therefore privileged status of the male as over against the female. This pervasiveness not only includes the religious institutions within the culture; indeed, insofar as religious institutions are the culturally appointed conservers of value, these institutions become prime guardians of the patriarchal status quo.
Indien die NG Kerkfamilie erns wil maak van ‘n Seisoen van Menswaardigheid sal daar dus baie beslis groter bewussyn omtrent menswaardige taalgebruik en die effek van seksistiese taalgebruik, wat so algemeen in die kerk voorkom, gekweek moet word. Van die genoemde riglyne en voorbeelde kan so ‘n bewussyn verhoog en terselfdertyd ook vroue en mans bemagtig met meer menswaardige alternatiewe.
[1] Dr Charlene van der Walt stuur hierdie aanhaling op 12 Mei 2014 per epos uit Oslo waar sy dit op straat raakgeloop het.
[2] Kruisgewys Maart 2013 p
[3] Kaethe Weingarten, Common Shock: Witnessing violence every da: how we are harmed, how we can heal Dutton, New York 2003.
[4] Ek steun in hierdie bespreking op die essay van Leandra Koening-Visagie (2012) The representation of gender in the Afrikaans corporate church: Fundamental difference in Claassens, Juliana & Viljoen, Stella (ed) Sacred Selves: Essays on Gender, Religion & Popular Culture Griffel Uitgewers P159-186.
[5] Ackermann, Denise (1993) Meaning and Power: Some key terms in Feminist Liberation Theology in Scriptura 44: 19-33.
[6] http://psychtalkradio.com/sexism-in-language
[7] Die berigte is beskikbaar by: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2002/07/19/13/3.html en http://www.dieburger.com/nuus/2013-06-04-god-nie-n-hy-of-n-sy
[8] Chopp, R S & Taylor, M L 1994. Reconstructing Christian Theology. Minneapolis:Fortress Press.