Wanneer my woede, vrees en hopeloosheid groter is as my hoop

Rimpelweek Helderberg Gemeente

17 September 2015

Wanneer my woede, vrees en hopeloosheid groter is as my hoop

 Inleiding

In die titel van my praatjie word sterk woorde gebruik vir uiters negatiewe emosies – woede, vrees en hopeloosheid. Dis emosies waarmee ons sekerlik almal bekend is en wat ons van tyd tot tyd ervaar of waarneem in ander. Ek is in my praktyk as sielkundige op ‘n daaglikse basis die getuienis van hierdie emosies – dis dikwels die rede waarom mense my opsoek vir gesprek.

Wanneer ons sulke sterk emosies ervaar, hou dit gewoonlik verband met traumatiese gebeure in ons persoonlike lewens of in die konteks waarin ons lewe. Dit kan verskeie vorme aanneem – bv die trauma van geld of beleggings wat skielik waarde verloor sodat drastiese lewensstyl aanpassings gemaak moet word, daar van planne en drome afstand gedoen moet word of mense selfs begin vrees dat hulle nie op die langtermyn sal kan oorleef nie. Dan is daar die trauma van sien hoe instellings waaraan jy baie waarde heg, soos die Universiteit van Stellenbosch, skielik die konteks van opstand, geweld en transformasie word sodat dit nie meer die plek is wat jy geken het of op gehoop het nie. Daar is rou rassespanning waarby ons eie kinders betrokke is reg op ons drumpel. Daar is die trauma van ’n loopbaan wat vasval of kortgeknip word en die onreg van diskriminasie teen jou omdat jou bydrae nie meer op meriete beoordeel word nie, maar ander faktore nou jou loopbaanvordering, of gebrek daaraan, bepaal. Die trauma van geweld, misdaad en blootstelling aan die bedreiging van ons en ons geliefdes se fisiese veiligheid en die veiligheid van ons besittings binne ons huise, werkplekke en op ons paaie is ’n deurlopende teenwoordigheid. Wanneer baie dinge baie vinnig verander, voel mense ook dikwels baie bedreig, ontwrig en vreesagtig. As jy die agteruitgang in dienste sien en lees van korrupsie en wanbestuur kan jy woede beleef en wanhopig begin voel oor die toekoms. Siekte, dood, verhoudings wat verbrokkel, verwerping en uitsluiting kan traumatiseer. Die blootstelling aan ander se armoede, mishandeling, pyn en ellende kan ons ook impakteer. Somtyds ervaar ons die gevolge van geweld en onreg of ander trauma wat ons jare gelede beleef het.

 

 

 

Die getuienisposisies

Kaethe Weingarten[1], ’n Amerikaanse professor in die sielkunde, het die impak van getuienis wees van geweld en onreg op mense bestudeer. Sy het ’n tipologie ontwikkel wat vier getuienisposisies voorstel na aanleiding van die mate waarin mense bewus is van dit waarvan hulle getuienis is en die mate waarop mense dan bemagtig daarop reageer.  Posisie 1 op die grid is wanneer mense bewus is van dit wat hulle beleef en bemagtigtig daarop reageer. Mense beweeg rond op hierdie grid soos hul bewussyn van wat hulle ervaar en waarneem asook hul vermoe om bemagtig daarop te reageer verander oor tyd of in verskillende kontekste of in terme van nuwe uitdagings of traumas wat hulle impakteer. Ons posisie op die grid is dus nooit staties nie. Sy verduidelik verder:

All of us, whichever role (victim, perpetrator, witness) we are currently in, can witness ourselves. We can become aware of what we see – witnessing ourselves as witnesses. We can become aware of what has happened to us – witnessing ourselves as victims. We can become aware of what we do to others – witnessing ourselves as perpetrators. More able to witness ourselves in each of these roles, we will be better able to witness others in each of these roles as well.

(Weingarten 2003: 26)

 

BEWUS

ONBEWUS

 

 

 

BEMAGTIG

1 2
 

 

 

      ONMAGTIG

3 4

 

 

Voorbeelde van die verskillende posisies op die grid

Posisie 4 Onbewus en Ontmagtig:

Ek sit en luister deesdae toenemend na die stories van trauma, pyn en magtelose woede van manlike tydgenote wat in die weermag was. Hulle vertel van hoe geglo het hulle is besig om vir ‘n edele saak te veg – ja, selfs aan die kant van God se volk teen die anti- Chris – onbewus van die groter prentjie van onreg en onderdrukking. Met ‘n landswet wat wit mans van ‘n sekere ouderdom dienspligtig gemaak het, was hulle ook taamlik ontmagtig om enige ander opsies uit te oefen. Nog ‘n voorbeeld sou wees hoe vroue glo dat onderdanigheid aan hulle mans God se wil is en dan mishandeling en onderdrukking in stilte verdra terwyl hulle meer en meer afgetakel, minderwaardig, depressief en desperaat raak. Hulle is dus onbewuste getuienisse van die onreg en magsmisbruik en dikwels ook ekonomies en emosioneel ontmagtig om iets aan hulle omstandighede te doen.

Wanneer ’n persoon onbewus en onmagtig is, is die effek op die self en op ander baie sleg. Die kanse is dan baie goed dat die persoon nie sal optree wanneer optrede geverg word nie en passief sal bly wanneer aksie baie belangrik is. ’n Slagoffer-mentaliteit asook ’n hopeloosheid kan deel word van so ’n persoon se lewe. Indien aksie wel geneem word, is dit dan ook dikwels oneffektief of skadelik.

Posisie 3: Bewus en ontmagtig

Baie van ons is baie, baie goed ingelig oor die onregte en vergrype wat aan die gang is, maar ons voel onmagtig om iets daaraan te doen. Persone wat deur moeilike egskeidings gaan waar lewensmaats alles in hul vermoens doen om hul maat te vernietig en baie geld en invloed het om die vuil geveg te veg of die mag en invloed het om kinders te vervreem, sou ’n voorbeeld hiervan kan wees

Hierdie posisie (bewus en ontmagtig) is uiters ongemaklik en pynlik omdat die persoon bewus is, maar nie weet wat om te doen of hoe om op te tree nie. Dis dikwels ’n posisie waar mens regtig oorweldig en selfs desperaat mag voel. Vanuit hierdie posisie word mens se energie, inisiatief, entosiasme en selfs bereidheid tot aksie dikwels ernstig geimpakteer.

Posisie 2: Bemagtig en Onbewus

Hierdie mag die mees gevaarlike posisie wees vir ander. Mense wat geweld en onreg waarneem, maar onbewus is van wat hulle waarneem en tog reageer asof hulle weet wat hulle doen, kan oneffektief of selfs skadelik optree. Die negatiewe effek van hierdie posisie kan verrykende gevolge hê, veral as die persoon vanuit ’n magsposisie reageer.

Position Two may be the position that is most dangerous to others. People who witness violence and violation, who are oblivious about what they are witnessing, but nonetheless respond as if they know what they are doing, will be misguided. Their actions will be ineffective at best and harmful at worst. The negative impact of witnessing from this position may be far-reaching, particularly if the person witnessing occupies a position of power or is perceived as having power. (Weingarten 2010:11)

Ek dink ons het almal al die ervaring gehad dat onsself of ander optree asof ons presies weet wat ons doen en later uitvind ons het uit onkunde opgetree en skade gedoen. Ma of dominee (behoede my!) “Wees maar die minste my kind, hy is darem baie diskreet met sy affairs en sorg so goed vir jou en die kinders.” Of: “Jy weet jou man sukkel met sy humeur, jy moet hom nie so ver dryf dat hy sy humeur verloor en tot geweld oorgaan nie. Jy weet ’n saak het altyd twee kante.”

Posisie 1: Bewus en Bemagtig

Dit verteenwoordig ’n posisie waar mens ’n bewuste en bemagtige getuienis is van geweld, onreg, pyn en bekommernisse. In hierdie posisie is dit vir ’n mens moontlik om met helderheid effektiewe aksie te neem. ’n Mens sal geneig wees om in hierdie posisie effektief, bemagtig en hoopvol te voel.

Ons beweeg altyd tussen hierdie posisies soos wat ons leef en nuwe kontekste en verhoudings beleef. Ons het altyd die keuse om op te beweeg na ’n posisie van groter Bewussyn en Bemagtiging. Soos wat mense se bewussyn groei, kan hulle oorweldig, skuldig en getraumatiseer voel en dalk verkeerdelik dink dat hulle van Bewus na Onbewus kan beweeg – daar waar hulle net afgestomp en gevoelloos kan wees, maar dit bring nie werklik verligting nie. Ons moet leer hoe om “op” te beweeg na Posisie 1 waar groter Bewus–wees ook met groter Bemagtiging gepaard gaan.

Hoe raak ons meer bewus?

Om inligting te verkry is natuurlik baie belangrik. Ons moet ons maar blootstel aan inligting soos deur die media verskaf. Ons moet kundiges – soos dokters, regsgeleerdes, finansiele kundiges, sielkundiges ens konsulteer om inligting te kry oor persoonlike wroeginge. Ons moet veral seker maak dat ons ’n verskeidenheid bronne het oor een saak – dit is waarom persvryheid so belangrik is. Meer belangrik nog, na my mening, is dat ons ’n verskeidenheid gespreksgenote sal hê. Dis veral belangrik dat ons dus met mense sal praat wat ’n klomp verskillende wereldsbeskouings, lewensrealiteite, geskiedenisse ens verteenwoordig. Dit beteken dus letterlik om met diegene te praat wat van ’n ander sosiale klas, generasie, ras, geslag, seksuele orientasie ens sal wees. Hul perspektiewe en stories bring ’n verhoogde bewussyn.

Ons kan ook na ons ervarings van onreg en geweld of ander traumas kyk deur verskillende brille. Vir ons as Christene is die bril van die teologie (Coenie Burger se bydrae) krities belangrik en onontbeerlik in die bevordering van ons eie bewusmaking. Wat sê die Here? Hoe moet ons as dissipels van Jesus Christus hierdie gebeure, ervaring of saak verstaan en hoe moet ons reageer? Ons moet die Bybel lees en ken. Ons het in die preekreeks oor hoop die afgelope paar weke wonderlike lering ontvang oor wat die Here ons deur die Woord leer oor Hoop.

Terwyl ek met my voorbereiding besig was vir die praatjie verlede week het by die Leesrooster teks in Jak 2 stilgestaan in my stiltetyd. Die Here het my weer opnuut bewus gemaak dat dit in God se oë sonde is om mense op grond van die uiterlike of verkeerde maatstawwe te beoordel (vs 9 Maar as julle mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders). En dan lees ek vanaf vs 14  ( 14. Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15. Sê nou daar is ’n broer of suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg, maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. (BEMAGTIGDE RESPONS!).

Ons moet ook kyk deur die bril van politieke bewussyn (Amanda Gouw se bydrae) wat ons kan help om magsverhoudings en dan ook die gevaar van magsmisbruik beter te verstaan. Ons bewussyn van wat in die wereld aangaan aangaande reg en geregtigheid kan ons help om minder individualisties te dink en dus minder te fokus op en hopeloos te voel oor ons eie persoonlike belange en om meer konstruktief te reageer en te begin deelneem aan die transformasie van ons groter gemeenskap.

Hoop en ’n bemagtigde response

Hoop is baie betekenisvol vir individue en vir gemeenskappe. Wanneer individue hoopvol is, verbeter hul probleem-oplossingsvaardighede, hulle hanteer uitdagende situasies beter en vaar selfs beter met siekte en gestremdheid. Navorsing dui daarop dat hoop oorlewingsvoordele inhou terwyl hopeloosheid risiko vir lewe impliseer en sterk met selfdood korreleer – selfs hoër as kliniese depressie! Om mense te help om positiewe verwagtinge van ’n verkose toekoms te ontwikkel kan dus lewens red. In terapie herinner ek myself gedurig daaraan dat ek nie vir mense hoop kan gee of selfs kan genereer nie. Ek kan mense wel ontmoet en die tipe gespreksgeleenthede skep waar ons saam begin skep (co-create) aan hoopvolle moontlikhede (reasonable hope).

Die klassieke idees of beelde van hoop soos bv ’n skoenlapper of reenboog stel verwagtinge en standaarde wat sonder beperkinge is, dit suggereer dat hoop hierdie “magical” staat is waarop ons net moet wag. Sonder hoop klassifiseer mense hulself dus as hopeloos of selfs desperaat.

Kaethe Weingarten (2010) onderskei Redelike Hoop as ’n tipe hoop wat kan groei en meer haalbaar is as hoop en dis waaroor ek graag verder vanaand wil gesels.

Redelike Hoop (Reasonable Hope) of hoop-in-aksie

Redelike hoop impliseer iets sinvol/betekenisvol en tog gematig, dit fokus ons aandag op wat binne bereik is eerder as wat verlang/begeer word maar nie bereikbaar is nie. Redelike hoop versag dus die polariteit tussen hoop en wanhoop of hoop en hopeloos en gee vir meer mense die geleentheid om hulself as hoopvol te ervaar. Dit verbreed dus die kategorie hoopvol.

Redelike hoop verwys na aksies wat mense kan neem en nie, soos hoop, na gevoelens wat mense kan of nie kan opwek nie. “n Persoon wat optree op maniere wat uitdrukking gee aan redelike hoop tree dikwels saam met ander op. Waar hoop dikwels gesien word as ‘n eienskap van ‘n persoon, word redelike hoop gesien as aksies deur een of meer mense.

Tyd is ‘n kritiese dimensie in ons verstaan van hoop. Hoop het dikwels as doel om gretig te wag vir die toekoms met die tyd tussen nou en die toekoms gevul met passiewe afwagting. Redelike hoop het ten doel om sin te maak uit die hede (bewus) en daarop te reageer (bemagtigde response) op maniere wat ons voorberei vir wat voorlê in die toekoms. Met redelike hoop word die hede gevul met werk nie wag nie, ons bou ‘n stellasie om onsself vir die toekoms voor te berei.

In stories van hoop word dikwels ‘n progressiewe opwaartse lyn getrek van huidige na toekomstige omstandighede. Met redelike hoop is daar nie noodwendig so ‘n lyn wat reguit van links-onder na regs-bo gaan nie. Daar mag ‘n klomp lyne wees, want by redelike hoop is die fokus op ‘n proses van sinmaak van wat gebeur eerder as op positiewe uitkomste.

Redelike hoop as konstruk/idee voorsien ons van ‘n manier van dink oor hoop wat hoop toeganklik maak vir enige persoon selfs in die mees uitdagende en beperkende omstandighede.

Die idees van redelike hoop herinner sterk aan die “Ethic of Risk” vs ‘n “Ethic of Control” soos beskryf deur teoloog, Sharon Welch (1990:68):

 

The fundamental risk of this ethic is the decision to care and to act although there are no guarantees of success. Such action requires immense daring and enables deep joy.  It is an ethos in sharp contrast to the ethos of cynicism that often accompanies a recognition of the depth and persistence of evil.

Dit herinner ook aan wat Ackermann (1998:89) skryf oor die feministiese teologie van praksis (wat daarop gerig is deur aksies die samelewing te beinvloed sodat geregtigheid en gelykheid van alle mense moontlik word): ‘A feminist theology of praxis is characterized by risk and requires stamina. Ambitious and risky, it is an exercise in vulnerability. It risks failing, it risks appearing futile in the face of often overwhelming odds.’

Redelike hoop het die volgende eienskappe:

  1. Redelike hoop leef binne verhoudings – geskied saam met ander/ is ‘n handevat aktiwiteit

Hoop word gewoonlik gesien as ‘n eienskap van ‘n individu terwyl redelike hoop floreer binne verhoudings. Die idée van ubuntu word geimpliseer. Nie alle verhoudings sal redelike hoop ondersteun nie, maar dit sal een van die doelbewuste aksies van redelike hoop wees, nl om ondersteunende verhoudings op te soek, te stig en te versterk. Dis soos ‘n koor van hoop waarin die stemme van hoop mekaar ondersteun en aanvul en die koor van hoop aanhou sing, selfs wanneer van die stempartye stilbly.

Taak: Afbreek van isolasie en bou van verhoudings

Woede, hopeloosheid en vrees isoleer mense dikwels van ander mense. Dit maak dat mense na binne gerig word (Paul Barnard se preek met die kraainesse). Mense het dan iemand nodig wat hulle sal help om weer met ander persone verhoudings te bou. Ons moet hulle help om hul netwerke uit te bou. Ons moet ons eie netwerke uitbou. Soms het ons net nodig om weer aangename aktiwiteite met ander mense te doen om weer toegang tot redelike hoop te ervaar. Verlede week het ek uit Pretoria terug gekeer na ‘n baie baie moeilike vergadering waar my hoop vir die groter NGK maar laag was. Ons gaan eet toe die aand met vriende vir wie ek sommige van my ervaring kon vertel en saam met wie ons net bietjie kon lag en van wie ek weer bevestiging ontvang het en daar het my toegang tot Redelike Hoop weer versterk.

Ek dink aan die waarde van ondersteuningsgroepe vir mense wat met soortgelyke probleme worstel. In terapie werk ek hard daaraan om mense te help onthou wie diegene is wat hulle ondersteun en in hulle glo. Ons betrek hulle by die gesprekke en verkry verbintenisse van hulle om saam te help bou aan redelike hoop.

Sondag se getuienis van Pieter Spies oor sy besoek aan Milange in Mosambiek en hoe hy die doktersegpaar daar aangetref – totaal oorweldig en moedeloosheid agv die diepte en omvang van die nood. So lieflik dat hy dit kon raaksien en toelaat dat die Here hom gebruik om, ipv inspring en pasiente sien en opereer moeite te doen om die talle, oorweldigende stories wat getuig van die reuse verskil wat hul mediese dienste aan mense se lewens maak, weer by te dra tot redelike hoop vir hulle.

  1. Redelike hoop is ‘n praktyk

Redelike hoop is ‘n praktyk – iets wat ons saam met ander doen. Ons doen dit as ‘n uidrukking van wie ons wil wees en hoe ons wil optree in die wêreld. Redelike hoop gaan oor wees nie oor nie, oor doen nie oor wens nie. Redelike hoop as praktyk gaan nie oor die bereiking van ‘n doelwit nie, maar gaan oor die mik na die doel. Dis die reis nie die bestemming wat belangrik is nie. Dit help as ons aan hoop dink as ‘n werkwoord en nie ‘n selfstandige naamwoord nie. Die proses van doen, konstrueer die redelike hoop. Hoop s ‘n werkwoord, as ‘n aksie of praktyk, is op die hier en nou gefokus en is gemik op aksies wat mense saam laat werk aan ‘n verkose toekoms.

Taak: Om te verstaan dat selfs die kleinste stappie betekenisvol is

Wanneer mense oorweldig is deur probleme soos generasies van geweld en mishandeling, desperate armoede of daaglikse gevare en trauma is dit moeilik om saam met hulle te staan en nie self oorweldig te raak deur hopeloosheid en wanhoop nie. Dis wanneer ons moet verstaan dat selfs die kleinste stappies of aksies waarde het en ook rimpelinge kan veroorsaak in mense se lewens.

Die meetinstrumente waarmee ons sukses meet moet aangepas word sodat ons geringe stappies in die gewensde rigting van verandering kan meebring. Soms is ons aksie net een van die stukkies van die legkaart wat die prentjie met behulp van klomp ander mense se bydraes gaan voltooi. Ons sien dit soms nie eers in ons leeftyd nie!

Neem kennis van elke hoopvolle stappie wat mense neem en lig dit vir hulle uit. Jane[2] se storie: Twee jaar gelede het Jane my kom spreek nadat sy haar suster ingelig het dat sy reeds 40 jaar lank seksueel gemolesteer en geteister word deur ‘n familievriend. Toe ek haar die eerste keer ontmoet het, kon sy skaars praat, sy het geen oogkontak gemaak nie en ek het gewonder hoe ons ooit die uur gaan omkry sonder woorde met trane wat oor haar wange loop en fragmente van ‘n storie van trauma en onreg soos wat ek nog selde in my meer as 30 jaar as sielkundige gehoor het. Die afgelope twee jaar is stilte steeds ‘n groot teenwoordigheid in ons sessies en is dit soms moeilik omdat vordering geweldig stadig en moeisaam is. Die reis was ook vol verdere verliese en vernederings toe sy die vrou van die man wat haar geweld aangedoen het, vertel het en haar vriendskap asook haar hele vriendekring van skooldae af al verloor het. En tog het Jane tsv haar pyn, vertroue in mense wat geskend is en haar vrees vir telleurstelling ongelooflike dinge gedoen wat begin bydra het tot redelike hoop. Sy het bv haar ma se klavier vir die buurdogter wat op ‘n keyboard geoefen het, geskenk en so het ‘n vriendskap met die bure ontstaan wat gelei het tot swemlesse vir die dogter en haar maats. Sy het fotografie ontdek en begin om vir grafiese ontwerpe en fotos met gesegdes te maak en weekliks vir my te stuur – dit het bygedra tot hoop. Toe ons hierdie week ons 2 jaar herdenking van ons terapeutiese reis gevier het, het ons hierdie stappies wat Jane geneem het uitgelig en herbesoek en dit het ons met soveel vreugde ( en sakke vol redelike hoop) gevul!! Sy het haar toestemming gegee dat ek van haar “skeppings”, soos sy dit noem, met julle mag deel vanaand en het ook ‘n kopie van my praatjie gevra.

Ons meet nie vordering teen die ideaal nie – Jane s’n was dat sy sou trou en haar eie kinders hê. Sy is amper 60, die kanse daarvoor is nou verby. Ons meet die vordering teen waar ons vandaan kom – daardie dae toe sy in vrees geleef het met ‘n konstante hol kol op haar maag of die eerste dag wat sy amper nie gou genoeg by die huis kon kom om te gaan opgooi van ontsteltenis nadat sy haar vreeslike storie met ‘n vreemdeling moes deel.

 

  1. Redelike hoop beskou die toekoms as oop, onseker en beïnvloedbaar

Redelike hoop baklei nie teen onsekerheid en ‘n onbekende toekoms nie, maar omarm dit as die beste opsie. In desperate omstandighede, soos binne geweld, armoede of dodelike siekte, is dit juis omdat ons nie kan weet wat die toekoms inhou nie waar redelike hoop met die beperkte horison van verwagtings ons help om te werk in die rigting van iets beter as wat ons nou het. Ons kan juis werk aan redelike hoop omdat ons nie vaskyk teen ‘n vooraf bepaalde uitkoms nie, maar tog glo dat ons wel die toekoms kan beinvloed. Agency/agentskap beteken dus nie beheer of verandering nie, maar die vermoë om invloed uit te oefen in ons eie lewens.

Dit is dus ‘n uitreik en oop wees vir ‘n toekoms wat ons nie kan sien nie, maar ‘n draai na die lig wat ons nie nou sien nie, maar ons het die belofte dat dit bestaan. Vir ons as Christene is hierdie tipe oopheid vir die toekoms ‘n draai na God wat vir ons die belofte van hoop en vervulling is. As ons slegs kan leef met sigbare, duidelik afgebakende gewaarborgde stappe wat vir ons uitgepak is om op te loop, sal ons baie sukkel! Maar as gemeenskappe van gelowiges kan ons die lig wat ons weet daar is begin konseptualiseer en daarheen begin beweeg.

Taak: Daaglikse verwonderingspraktyke – gebed, meditasie, tyd in die natuur (daily practice of awe)

Weingarten onderstreep die belangrikheid van hierdie praktyke vir ons wat werk in omgewings wat ons maklik van hoop kan ontneem. Ook vir diegene van ons wie se eie lewens soms deur wanhoop, woede en hopeloosheid bedreig word.

Laat jouself toe om oomblikke van vreugde te geniet

Vreugde/geluk – soos ‘n lied te sing met vroue wat mishandel is of blomme te geniet of te lag en grappe te vertel . Vreugde bind mense saam, dis ‘n bron wat hulle kan benut om te oorleef binne baie moeilike omstandighede. Dit bring energie en versterk redelike hoop.

 

  1. Redelike hoop soek na doelwitte en paadjies wat daarna lei

Ons is geneig om hoopvol te voel as ons ‘n duidelike doel het met ‘n duidelike bekende pad wat daarna lei. Ons voel hopeloos wanneer die pad geblokeer en die doel onduidelik is. Hopeloosheid kom vanuit die oortuiging dat niks wat jy wil hê binne bereik is nie.

Om realistiese doelwitte te stel en paadjies daarna te vind, is nie noodwendig eenvoudig en maklik nie. Dit impliseer dikwels ‘n klomp probeer en tref, ons moet bereid wees dat doelwitte en paadjies/rigtings mekaar vinniger afwissel as wat ons ooit gedink moontlik of wenslik sal wees. Dit kan gebeur dat die lewe aan ons uitdagings stel wat ons op paadjies et vat wat ons nooit gedink het vir ons nodig of aanvaarbaar sou wees nie. Die praktyk van doelwitte hersien en nuwe paadjies maak, strek ons dikwels geweldig.

Redelike hoop is nederige hoop, dit troef ideale. Dit is tevrede om minder as alles te doen wat nodig is om te verseker dat iets gedoen word.

Taak: Soeke na redelike doelwitte en paadjies daarheen

Vra wat dit is waarop jy hoop? (skryf dit neer – ultimate hope)

Reflekteer nou oor hoe bereikbaar dit is.

Vra wat die volgende hoop sal wees, ‘n bietjie kleiner en miskien meer bereikbaar.(skryf dit neer)

Reflekteer op die haalbaarheid van die hoop.

Wat is nog ‘n kleiner meer haalbare hoop?

Reflekteer oor die haalbaarheid.

Nog kleiner en meer haalbaar ens ens

Identifiseer ‘n stap wat nou geneem sou kon word in die rigting van dit waarop jy hoop.

 

  1. Redelike hoop akkommodeer twyfel, teenstrydigheid en desperaatheid

Hoop is ‘n swart en wit kategorieë, dit laat geen ruimte vir twyfel, teenstrydigheid of desperaatheid nie. Redelike hoop opereer in ‘n grys area waar twyfel, teenstrydigheid en desperaatheid saamleef daarmee. Hoop het ‘n konnotasie van suiwerheid terwyl redelike hoop weet dat die lewe morsig (messy) kan wees. Dit omarm teenstrydigheid en word nie vernietig wanneer dit kop uitsteek nie.

Ons moet standpunt inneem teen onreg

Wanneer ons kan raaksien wat onreg of onregverdig is en daarteen standpunt inneem, versterk ons redelike hoop. As ons werk vir ‘n meer regverdige gemeenskap bou ons aan redelik hoop – nie net vir onsself nie maar dra ons by tot rimpelinge van redelike hoop.

Helderberg Uitreik bied wonderlike geleenthede vir gelowiges wat wil betrokke raak by die verkondiging van die Hoop wat in Christus is, by projekte waar onreg soos armoede, mensehandel, ongeletterdheid, vroee kinderontwikkeling ens aangespreek word. Sodoende kan gelowiges ‘n bemagtigde response gee tot sosiale euwels terwyl ons die boodskap van Christus verkondig. Die Jak 2 opdrag uitleef.

Seisoen van Menswaardigheid wat die vier susterkerke binne die NGK familie aangekondig het, het ook ten doel om lidmate te help om, in navolging van Christus se voorbeeld die vier waardes van die Seisoen nl, Respek, Luister, Liefde en Omarming uit te leef. Die kerkraad gaan ons hierin begelei.

Miskien is dit gepas dat ons vanaand reeds saam ‘n belydenis doen van die menswaardigheid wat ons glo God in ons gemeenskap wil sien. Kom ons verbind onsself daartoe om mee te werk om ‘n gemeenskap te word wat die menswaardigheid leef.

 

Liturg:

Ons bely vanaand dat te midde van ‘n realiteit waar mense se waardigheid misken, nietig gemaak of geskend word, dat ons glo in ‘n God van reg en geregtigheid, ‘n God wat ten diepste betrokke is by die nood van diegene wat ly. Ons bely dat ons glo in Jesus Christus wat uitgereik het na mense wat deur die wêreld verag word, wat ‘n vriend was van vroue, melaatses, sondaars en vreemdelinge.

Ons bely dat ons glo in die Heilige Gees wat oor die eeue heen mense inspireer om te veg vir reg en geregtigheid, wat die Trooster is van diegene in pyn

As gemeente kom ons saam om onwaarhede uit te daag en om onreg teen te staan. Ons bely dus die volgende oortuiginge:

Liturg:

DIT IS NIE WAAR dat armoede, geweld, korrupsie nie teengestaan of geëlimineer kan word nie.

Almal: DIT IS WAAR dat Jesus Christus na die wêreld gekom het om die tafels van onreg om te keer, sodat mans en vroue, versterk deur die Heilige Gees, armoede en onreg in ons land sal uitdaag.

Liturg:

DIT IS NIE WAAR dat vroue moet voel en ervaar dat ‘n vrou minder werd is in die gemeenskap nie; dat vroue so dikwels die slagoffer van geweld moet wees nie.

Almal: DIT IS WAAR dat vroue geskep is na die beeld van God, en dat mans en vroue geroep word om saam te werk om diskriminasie, onreg en geweld teen te staan.

Liturg:

DIT IS NIE WAAR dat rassisme maar net ‘n aanvaarde praktyk in ons gemeenskap en persoonlik lewe is nie. Almal: DIT IS WAAR dat dit nie vir God saak maak wat die kleur van jou vel is nie, maar of jy “reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God” (Miga 6:8 )

Liturg: DIT IS NIE WAAR dat geweld, terrorisme, en oorlog ‘n deel van ons wêreld hoef te vorm nie.

Almal: DIT IS WAAR dat die koninkryk van God ‘n vredesryk is en dat Jesus Christus verkondig het dat die vredemakers geseënd sal wees.

Liturg: Grote God, U naam word verheerlik waarookal reg en geregtigheid geskied. Mag ons groei in ons vermoë om in liefde en empatie met mekaar te leef Mag ons aktief werk om ‘n gemeenskap te wees waar elke mens se menswaardigheid gerespekteer word sodat dit in hierdie wêreld net soos in die hemel sal lyk

 

 

 

[1] Kaethe het persoonlike ervaring van soeke na hoop. Haar ouers was Jode wat die Holocaust oorleef het deur na Amerika te vlug.Beide ouers het gesterf aan kanker. Sy is self is meer as 30 jaar gelede met borskanker diagnoseer en leef sedertdien  met beperkte longfunksie agv bestraling.. Hul dogter is gebore met ‘n rare lewensbedreigende sindroom. Haar man is gediagnoseer met leukemie. Sy het die meeste van haar kliniese werk gedoen met vroue wat seksuele geweld oorleef het. Sy het ook traumaberading in oorlog- en trauma- geteisterde gebiede soos Bosnie, Rwanda en Suid-Afrika gedoen.

[2] Nie haar regte naam nie.